Wipmat-vreugde


ʼn Wipmat is jou goedkoopste vuurpyl. Dit is soos ʼn mini-lanseerplatform in jou agtertuin. Dit is die gevolgtrekking waarby ek uitgekom het na die laaste week.

trampoline-clipart-cartoon-trampoline-007

Nooit het ek sou dink dat my tweejarige se verjaarsdagpresent ʼn verestoffer vir my gemoed se spinnedrade sou wees nie. Ek het al vergeet hoe ongelooflik vry ek as kind gevoel het, wanneer ek sorgeloos op en af gewip het. Daar is iets daaraan wat jou laat voel soos Superman as jy vir ʼn paar sekondes lank in die lug rond vlieg. (Jou borste en blaas voel ook besonder vry, maar dis ʼn storie vir ʼn ander dag.)

Ek was nie regtig lus om die anderdag op haar aandrang saam te gaan spring nie, maar daardie smekende ogies het my hart laat smelt. En daar gebeur die wonderlikste ding. Na die eerste paar wippe en die klokhelder lag van my kind, het die spinnerakke van die week soos ʼn towerslag verdwyn.

Die oomblik toe my voete die neerdrukkende krag van gravitasie bietjie kon ontsnap (en ek selfs die bure se wasgoed kon sien) het my knellinge soos stof op die grond geval en my kop in die wolke beland. ‘n Ware verligting van gemoedskonstipasie.

Selfs Jasper, my meisiekind se hondjie, kon nie die euforie weerstaan nie en het besluit om ook in te spring, as mens dit nou so kan stel. Daar wip ons drie onsself toe nou in ʼn ander dimensie in. ʼn Klein wêreldjie van ons eie.

Doen jouself ʼn guns en sleep jou man en sy beursie, of jou eie, na die naaste winkel en koop ʼn wipmat. Selfs die sterre lyk dan heel bereikbaar van jou lanseerplatform af en jou sielkundige kan dan ook bietjie verlof insit.

Foto: Pinterest