Wanneer jou tekenbord anders lyk


Laasweek was ʼn emosionele mallemeule rit, amper soos my span (die Cheetah’s) se tipe rugby. Ek moes teruggaan na die tekenbord en net weer besef dat elkeen sʼn uniek en anders is.

20150413_091216

“Waarvan praat die vrou?” mag julle vra. Ek praat oor die uniekheid van kind grootmaak. Soos julle in die laaste skrywe gesien het, het ek ons Zerzant kleuterkool toe gevat…of te wel probeer vat.

Teen dag twee, toe die juffrou van die skool (en ek gaan nie hulle naam noem nie) nie eers die moeite doen om die enigste nuwe mamma self te kom gerusstel dat haar bloedjie oorleef nie, het my stemmetjie in my binneste begin fluister. Boonop was dit die tweede dag wat haar eie juffrou van haar klassie, my nie eers in die oë kan kyk as ek vra hoe het dit gegaan nie. ʼn Ander enetjie het bomverskrik gelyk toe sy my kind so vinnig as moontlik in my arms stop en mompel: “Sy het net die hele dag gehuil.” Dit kon ek sien. My kind het are onder haar oë gewys. My hart het geruk. Dit alles nadat ek my kind probeer verduidelik het in ʼn epos voordat ek haar gestuur het. Ek het haar uitgehaal.

Ek weet kinders vat tyd om aan te pas en bla bla bla al die goedjies wat almal nou dadelik dink en sê. Teen die tyd is ek nou al ʼn redelike ekspert op die “vat tyd om aan te pas”. My kind is die meester daarvan. Maar ʼn kind skree nie haar siel uit die hele dag nie en lyk of iemand die lig in haar oë met ʼn snuiter geblus het nie. Hulle raak gewoonlik rustig en begin met die ander maatjies speel. Myne het nie.

Ek is baie vies vir myself hieroor. Sy was anders, van geboorte af en ek moes van beter geweet het en by oorspronklike plan gebly het. Ek hoor weereens die slimmes daar buite ʼn eier lê dat elke kind uniek is, en dit is so. Myne kleur net so effens meer buite die lyne in as my vriendinne s’n. Die van julle wat nabye vriende is sal weet waarvan ek praat, want julle het dit self beleef.

Is daar iets fout met haar. Nee. Verdien sy ʼn bordjie om haar nek, nee. Sy was nie ʼn koliek baba nie, koliek kinders hou aan skree, maak nie saak wat nie. Myne het net gekree totdat haar ma haar vasgehou het. Niemand mag haar opgetel het nie, nie eers haar eie pa nie. Gogo Gladys was die eerste mens na my wat haar kon stil kry, want by haar mag sy ook teen haar lyf gery het sonder oordeel. Glo ek aan kinders wat hulle self moet uitskree. Ja, wanneer hulle vieslike vloermoere gooi, stout is en pakslae gehad het, nie wanneer hulle onskuldige klein babatjies is nie. Sien jy enige soogdier dit aan hulle kleintjies doen? As ʼn dier dit nie eers doen nie, hoekom sal ʼn mens, wat homself as verhewe bo diere sien, dit doen? Dieselfde geld vir weier om jou kind by jou te laat slaap. Waar sien jy dat dit normaal is dat jy ʼn lewetjie, wat nege maande jou hartklop gehoor het, skielik alleen in die donker op hulle eie moet slaap? Nie eers diere, wat paar minute na geboorte begin loop, doen dit nie.

Ek kan dit sê want ek was in die kampie wat voorgeskree het dat ʼn kind nie in my bed sal slaap nie. Zerzant het al my moederskap opinies soos ʼn leeu verskeur in een week. Sy het ons bed vir 8 maande gedeel. Eers tussen ons en later in die kot wat ons teen die bed gesit het en die een kant afgehaal het. Vriende het gemor, dat ons geen sekslewe sal hê nie, dat sy nooit uit ons bed sal klim nie…warra warra warra. Ons het ʼn opwindende sekslewe gehad (nadat ek oor die moeg en seer begin kom het) want ons het ander plekke in die huis opgespoor wat weer speserye in die resep gegooi het. Julle weet, daardie dinge wat die seksperts vir jou vertel om te doen. En sy het op nege maande in haar eie bed geslaap. Dieselfde maand wat sy begin loop het. Ja, sy klim net soos enige ander kleuter teen vier uur by ons in. Party ouers het net meer moed om dit hardop te erken as ander.

Meer as dit, kon ek en ons gerus slaap want jy hoor jou kind asemhaal, jy hoef nie op te staan nie (ek het naderhand slaap-slaap geborsvoed, heerlik op my sy) en nee, jy slaap nie jou kind raak nie. Jy is so geprogrammeer. Leer dit net vertrou. Daar is ʼn fyn, kosbare wetenskap tussen die asemhaling van ʼn ma teen haar baba. Gaan soek en lees dit gerus op. Dis eintlik pragtig. Boonop is dit sulke kosbare oomblikke.

Ek het ook op aanvraag gevoed. Elke een en ʼn halwe uur in die begin. Weereens baie kritiek gekry, maar ek het deurgedruk. Sy het my self op 8 maande gespeen, in letterlik een dag, en sy het al my babavet in 3 weke weggesuig.

Was dit maklik, glad nie. Ek het nageboortelike depressie gekry, want ek was kwaad. Kwaad omdat sy my spasie kom vat het en nie wou los nie, nie eers vir ʼn halfuur ʼn dag partykeer nie. Kwaad omdat ek my opinies moes verander. Kwaad omdat ek wou weet hoekom ek? Kwaad want ek was moeg om die seer in haar pa en tannie se oë te sien en die ouma’s te sien huil omdat sy nie na hulle toe wil gaan nie. Maar die kwaad het my gedryf om te soek na oplossing wat vir ons sou werk, want meer as enige iets het ek in my kind geglo en dat sy sal aanpas wanneer sy reg is. En sy het en doen steeds. Ek het haar teen my lyf gedra in al wat ʼn drasak was en hope artikels gelees oor die voordele daarvan, en elkeen van hulle het as waar uitgedraai.

Sou ek dit anders gedoen het sou ek kon. Glad nie. Ek het geleer hoe selfsugtig ek regtig is, dat enigste kinders moeilike ouers maak want hulle het nooit sibling-konflik leer hanteer nie, nooit gewoond gewees aan kinders in die huis nie. Ek het geleer dat God my haar ma gemaak het met ʼn rede. Dat sy ʼn ma nodig het wat haar nie steur aan konvensies nie, wat nie bang is om haar eie metodes te volg nie. Wat glo, die verantwoordelikheid van kind grootmaak die grootste in die wêreld is en jou as ouer en niemand anders se plig is nie. (Tot die minister van onderwys stem saam.) Dat jy ʼn moedersinstink gekry het met ʼn rede. Partykeer skree die mense en die wêreld om jou net so hard, oor wat hulle dink die regte ding is, dat jy nie daai stem in jou kan hoor nie en twyfel in jouself as ma.

Die vreugde op almal naby ons se gesigte, wanneer sy die eerste keer na jou toe uitreik en haar in haar kring toelaat, maak al die gewag die moeite werd. Om te sien hoe sy ʼn vriendelike intelligente kind is wat hou van die wêreld om haar. Sy hou nie van babataal nie, ook nie van fake grimering of gereedskap nie. Sy wil die wêreld sien soos hy is en dit langs jou sy. Soos vanoggend, waar sy herfs langs haar ma leer ken op ʼn oggend wandeling. Nuuskierig die verskillende plante se bessies en peule vir my bring en met uitbundigheid hardloop, want sy het selfvertroue. Daardie selfde selfvertroue wat ʼn kleuterskool juffrou in haar wil indwing deur haar weg te ruk van haar ma af, as sy duidelik nie reg is daarvoor nie. Daardie selfde skoolwerk wat sy op ʼn praktiese manier op ʼn belaglike ouderdom van twee leer. Op die manier wat sy sal onthou: deur te speel en te eksperimenteer.

“Wat van haar sosialisering?” Hoor ek die vraag. Sy gaan oral saam met my. Sy word blootgestel aan alles (Anders as wat jy Juffrou Baie Slim my wil vertel dat sy in ʼn kokon is.) Ek leer haar speel-speel sing en lees. Sy is vriendelik en bedagsaam. Net versigtig en skugter.(Tot sy jou ken dan neem sy oor.) Kinders leer nie sosialisering by ander kinders nie. Hulle leer dit by jou. Hoe jy by ander mense kuier, hoe jy met ander mense saamleef. Nie by hulle maatjies wat self nog niks weet nie. Dieselfde met selfvertroue. Hoe baie van ons jaag so woes in ons eie lewe dat ons nie eers meer self by familie en vriende uitkom nie en dan los ons dit aan ons kinders en ander mense oor om daardie fyn vaardigheid vir hulle te leer.

Dit het ʼn prys ja. Jou tyd. Jou moeite. Jou geduld. Nie almal kan doen wat ek gedoen het nie. Jou hoë korporatiewe pos los om minder te werk en meer by jou kind te wees nie. En ja, ek is steeds ʼn gedrewe mens en het niks teen werkend ma ‘s nie. Ek is immers steeds self een. Ek het net ander doelwitte en het ook nuwe horisonne vir myself begin najaag want ek glo my kind moet kan sien wat is ambisie. My ambisie moet net nooit van haar vergeet nie.

O en nog iets Juffrou Slim. Plekke soos Clamber klub en Pienkvoetpret, leer jou kind selfvertroue op ʼn baie gesonder manier. Dit bederf hulle nie omdat die ma by is nie. Dit gee hulle ʼn hupstoot. Dit het die vreugdolle lag en spontane drukkies vir mamma en juffrou sowel as die maatjies, hierdie naweek net duisend maal oor bewys. Want wie gaan daar wees vir die res van haar lewe (solank ek bly leef)? Haar ouers en familie. Nie haar skooljuffrou en boeke nie.

Daarom my liewe mense sal ek aangaan om my kind self op te voed soos wat ek voel dit behoort te wees. Sonder boksies en kampies met verkrampte kreatiwiteit en vooroordeel. My tekenbord het sy eie spelplan.