Vier-seisoene-kind: Grahamstad


Ek het dit nou uitgepluis, om die weer in Grahamstad te geniet en nie frustreerd te raak nie, moet jy tips by ‘n stripper gaan vat….

joey-layers

Daar is onsekerheid by my of die plek probeer polities korrek wees, of sommer net dood eenvoudig besluitloos is. Nie net ervaar jy al 4 seisoene in een dag hier nie, sy (want Grahamstad toon duidelik 100% vroulike eienskappe) draai haar mantel met grasie en ‘n oogknip in die rigting van watter tipe wind ookal waai.

Hierdie wispelturigheid het my menigmaal nou al pers van die koue (en nie eers net op Rhodes se Purple Thursday) en glad van die sweet gelaat- in ‘n kwessie van 3 ure. My bakkie lyk al of ek by die drama department werk! Baadjies, musse en kortmou hempies bondel op langs die doeksak, karstoel en my dogter se kussing en kombers. My grimering ry in my handsak saam om die sweetloopsels reg te maak. (Ek gaan binnekort op dit opgee.) Ek is nie eers gemeen as ek nie mense oplaai vir ‘n lift nie. Daar is waarlik net nie plek nie!

So, nou het ek besluit dat ek moet soos erotiese dansers die lagie-aantrek-tegniek bemeester. Velcro lyk nou al aantreklik. Die nadeel van hierdie tegniek in kombinasie met ‘n 3 maande oue baba en ‘n ontembare kleuter is dat my regterhand by die huis seker al haar hare uittrek oor die baie wasgoed. (Chemieman oor die krag rekening…) Probeer soos ek wil my lagies bly nie een skoon nie. Veral as ek die dag vergeet om my borssponsies in te sit (om die borsmelk  in toom te hou).

Glo my ‘n serp is ‘n totale moet, want dit keer nie net die koue om die keel nie, dit vee sweet af en verdoesel bullseye melksirkels op hemde.

Doel van die storie is, as jy dalk straks die dorpie kom besoek (want sy het baie om te sien) maak spasie in die kar vir jou ekstra lagies! Moenie sê ek het julle nie gewaarsku nie.

Sela.

Foto: Joey layers http://www.hercampus.com/school/uga/10-packing-tips-studying-abroad-summe