Tyd om laer te trek


Dinge was maar bietjie stil hier op die blog die laaste tyd, maar dit was nie oorlat ek nie met julle wou praat nie, dit was die gevolg van ‘n mallemeule spiraal van gebeur in onse lewens. Nou staar Deesember en die einde van 2015 my in die gesig en dis tyd om voorraad te vat.

KONICA MINOLTA DIGITAL CAMERA

Ek het wel baie geskryf, net nie hier nie. ‘n Stokperdjie en droom het nou sy voete gevind op die pad van ‘n tweede beroep, wat ‘n malle lekker gedagte is dit nou nie! Alles deel van die legkaartstukkies van my lewensprentjie. Ek het eerstehands die revolusie van die studente by Wits beleef, my paar kuikens wat ek (probeer) leer het wat dit beteken om ‘n apteker in hierdie era te wees, die nes sien verlaat en die uitdaging van swanger wees vir die tweede keer aangepak. (Hier waar ek sit en tik staan ek al my preggie jeans lekker vol). Ek het trane in die oge die mooiste troues kon verwoord (en natuurlik my verkyk aan die fraai rokke) en die voorreg gehad om onderhoude met mense te voer wat my lewe so verryk, en soms ook my denkwyse baie verander het.

Daar was heelparty vonkelwyn oomblikke (nie dat ek hulle op die oomblik kan vier met ‘n glasie borreltjie sap nie) en ook een lastige groot wurgpatat. So groot dat hy meer as net vonkelwyn nodig het om af te gaan, nee hy het ‘n revolusie van sy eie nodig gehad.

Die ding is so: Ek en Chemieman en die stad is soos olie en water, ons meng nie lekker nie. Oor die laaste paar jaar het hierdie betonoerwoud stukkie vir stukkie die blink uit ons oë en die grootoog drome uit ons harte begin steel. Ons het baie geleenthede gehad, dit sal ek nooit ontken nie, gawe vriende gemaak en vreeslik gegeroei. Dis nou juis daardie groei wat nou teen die gejaag, geweld en afgesonderdheid van ons mense begin skop. Ons soek ruimte en eenvoud, familie en kwaliteit tyd en niemand moet vir my twak vertel dat dit nie moontlik is nie. Jy maak ‘n keuse om dit te hê en die prys wat dit vra is nog heel in my begroting dankie. As dit die stad jou ding is, goed vir jou, dis nie my dam nie.

Twee still mense het vir mekaar oor ‘n etenstafel geloer, die aand voor ek vir ‘n onderhoud Lepalale toe sou vertrek. Ek het twee dae mamma-verlof ingesit en die pad gevat na die bosse toe, ek het soos ‘n asmalyer met brongitis gevoel, ek wou vrek. Chemieman het dieselfde gevoel ek kon dit in die beklemde trekke om sy mond sien. Daar in die vagevuur van Limpopo het die leeu in my haar hok gebreek en besluit tot hier toe en nie verder nie. Ons familie is reeds by die see, ons het ‘n afbetaalde huis daar wat de hel keer ons om naby ons mense te wees? Hoekom moet ons toelaat dat ‘n kunsmatige monster ons as gesin ook uitmekaar wil trek? Ons kinders kan die vreugde van grootouers ervaar, ons weer die net van familieondersteuning en daarby die ruimte van die platteland. Sy ouers woon reeds by sy sussie, myne sal by ons woon. Ons gaan laer trek. Want of die samelewing dit wil besef of nie, ons is in die middel van ‘n oorlog. Nie net teen ons eie boeremense nie, maar teen die behoud van gesinne, familie, vryheid en die groei van individue. Nie net in Suid-Afrika nie, oral.

Nou kan ek dit so duidelik sien, die pad was klaar gemaak, ek het eerste en ‘n tweede beroep wat ek enige plek kan beoefen, ek kan weer gaan klasgee as ek wil my deure is vir my oopgemaak. Chemieman is geseënd dat hy sy werk gaan behou, maar hy was bereid om van beroep te verander. Die plan het net gewag vir ons hartwaardes om hulle stem dik te maak. Die kettings is af, ons is oppad. Geloftedag die jaar is weer ‘n herdenking van laertrek vir ons, ons eie laer. O hoor jy die magtige dreuning!