Stille getuies-ode aan die boom


Die bome van die lewe is voorwaar merkwaardige skeppings, deur die eeue heen staan hulle daar soos stil getuies, toeskouers van die mensdom.

tree-covered-lane-300x199

Ek mis die skote wat klap op die studente met 10 minute. Op pad na die bakkie toe stap ek oor die mooi kampus, tussen die stil reuse, met hulle grasieuse groen loof, deur. Ek wonder by myself of die plek ook ‘n fakkel gaan wees teen namiddag…. Die tyd gaan staan vir daardie paar minute stil.

Jy ruik die winde van verandering, maar vir daardie oomblik is ek tussen wêrelde. Hoe besonders is hierdie interaksie tussen hierdie stil getuies en ons nie. Hulle vat ons afvalstof (koolstofdioksied) en sit dit om in lewe (suurstof). Punt. Die Einde. Sonder vooroordeel, sonder voorwaardelikheid. Of die koolstofdioksied nou uit ‘n mond gekom het van iemand wat met goedheid spreek of haatspraak braak, dit maak nie saak nie. Hulle vrae nie vrae nie, absorbeer dit net en gee vir ons suiwer skoon asem terug. Nog ‘n kans as’t ware.

Nie net gee hulle ons lewe nie, hulle groei op ons afval. Daardie molekule wat ons laat vrek as dit ophoop, dryf prosesse in hulle wat diep in die aarde insink. Hulle vat daai negatiwiteit en sit dit om in krag. Make like a tree and leave…sê die Ingelsman. Wat doen daai leaf? Miskien kan ons paar tips vat…

Hulle koelte is vir almal, hulle vrugte stoot hulle op hulle tyd. Dit is vir jou om die meeste van hulle geskenke te maak. Ek dink aan openbaring, wie volhard tot die einde sal toegang hê tot die bome van die lewe. Ons begin in ‘n tuin en ons begin weer oor in ‘n tuin.

Die tyd ruk my terug. Die uurglas loop. Waarvan wil ons hê moet hulle vir ons getuig wanneer ons tyd kom om te verduidelik….?