Spice Route, ʼn ontdekkingsreis van eksotiese smake


Dis ʼn asemrowende uitsig oor die Kaap se berge en ʼn heerlike koelte wat ons begroet toe ons op Spice Route se werf stilhou. ʼn Magdom geure oorval my neus en my mond water.

img_0579 img_0575

Die Kaap is nie net bekend vir sy wyne nie. Hier kan mens jou ook eet dat jy maagpyn kry (en ʼn nuwe klerekas moet koop). Met nommer twee in die oond was wynproe nou nie juis vir my ʼn opsie nie en daarom het ons, op aanbeveling van my wynland vriende, die speseryroete gevat. Dit is ’n lekker daguitstappie so voor ons moet terugvlieg.

Spice Route is die Paarl se smaaksensasie en is reg langs die ewe verleidelike Fairview plaas. Ek het behoorlik gevoel of ek in die hemel instap (al was dit so warm soos die hel die dag). Kosserasies maak my vreeslik bly. Ons het die ouers (wat nie meer so mobiel is nie) onder die pragtige groot eikeboom by een van die restaurante met ʼn ietsie koud gaan parkeer. Terwyl hulle die skone uitsig bewonder, het ek, my man, my skoonsus en ons kleuter gaan verken. Wat my opgeval het is dat al die paadjies asook die toiletgeriewe rolstoelvriendelik is. Daar is ook genoeg parkering.

Daar is ʼn hele mondvol plekke om te besoek en ons het besluit dat daar niks verkeerd is om met poeding voor die maal te begin nie.

img_0561 img_0545

Sensasionele boontjies

Die De Villiers Artisan Chocolate Roastery and Espresso bar toor met sjokolade- en koffieboontjies. Die sjokolade word net daar op die perseel vervaardig. Hulle volg die katel-tot-graf beginsel, die rou boontjies kom dus by hulle aan (van volhoubare boerderye af) en word dan tot finale produk verwerk. Nie net het die pragtige vertoon en proe lokaal vir die sjokolade my beïndruk nie, maar ook die feit dat jy die fabriek se doen en late deur hulle glasvensters kan dophou. Dis werklikwaar ʼn wêreldklas ervaring. Ons het die sjokolade proe vir R20 p.p gedoen en met platter beursies daar uitgestap. Ek het hulle gespeseryde warm sjokolade baie geniet! Jy kan ook die enkel oorsprong proe doen (R30) of ʼn truffel-werkswinkel aanpak (R125).

Dieselfde liefde en sorg gaan in hulle koffie in wat jy kan koop in die De Villiers Cottage Café. Hier het ons ook weggelê aan hulle tuisgemaakte Gelato. My dag was gemaak en die roomys het om my en kleinding se ore gesit.

img_0565 img_0563

img_0544 img_0543

Brou-stories

Wolfgang Koedel is die bekwame broumeester wat Cape Brewery Company (CBC) se bier tot meesterstukke brou. Hier kan jy ook die hele proses dophou en ʼn skuimkoppie wegslaan aan die einde. My man was heel in sy skik dat die knaap wat die kwaliteitsbeheer toets doen (proe met ander woorde) ruimskootse monsters neem. Dis seker die enigste werk waar mens betaal word om so bietjie onvas op jou voete te raak….

img_0570 img_0585 img_0583 img_0582

Barley en Biltong

Hierdie emporium is net die regte plek vir Vrystaters wat nou al moeg is vir snoek. Keurige biltong (bees en wild) en bielie-burgers word op hulle kom-sit-kuier stoep bedien. (En dit is reg langs die brouery…). Ons het net ogies gewys daar want as jy hier vashaak gaan jy dalk die son ook daar sien opkom. Hulle noem so ewe ordentlik dat hulle nie ʼn biltongproe het nie…mmmm.

Kry ʼn bietjie kultuur

Om ons smaakpapille ʼn ruskans te gee het ons by die The Barn Artists Studio Gallery gaan inloer. Hier kan jy jou oë bederf deur na die mooiste skildery te kyk. Diane Back en Jake Watson skep hulle werke net daar en nooi ook gereeld plaaslike kunstenaars om saam te skilder en by hulle uit te stal. Kleingoed kan ook hulle lywe Picasso kom hou by hulle ART4KIDS klasse.

Grappa en Tappas

Die speelplek vir kinders vang my kind se oog en terwyl sy van die sjokolade en roomys suiker ontslae raak sluit ons by die ouers aan en smul aan ʼn kaasbord (met Fairview kase daarop natuurlik) en Franse pizza by La Grapperia. Die Grappa distillery, Wilderer Distillery, is soos ʼn goeie gasheer sommer net langsaan. Ek dink by myself dat dit nogal “wilderer” kan gaan as jy by elke restaurant se parskuip ook moet aandoen. Daar is hoeka nog ʼn stoppie waar jy kan wyn proe en koop.

So tussen die eike, pragtige wynlande, spys en drank gaan ʼn somersdag in ʼn japtrap verby en raak dit tyd om te ry, want as ons so aangaan verpas ons dalk die vliegtuig! Dit voel omtrent of ons by Brenda’s Deli verby rol toe ons die skuinste afdaal pad toe. (Daar is sekerlik gaste wat dit al gedoen het….).

Ons voorvaders het die gevaarlike spesery roete om die Kaap in dapper hout skepe aangedurf, vandag doen ons dit in lugverkoeling en sommer as ʼn eenstop-pitstop net ʼn klipgooi van die Kaap af. Kom dalk maar met die sportsnutsvoertuig of bakkie sodat jy plek het om alles wat jy gekoop het in te pak!

img_0571 img_0570

As jy nog steeds nie genoeg gesien het nie

Reg gekuur

Richard Bosman Cured Meats, spog met Spaanse en Portugese styl gekuurde vleise. Die geheim lê blykbaar daarin dat daar nie veel gevroetel en gekarring word met die vleis tydens die hele proses nie. Kwaliteit en tyd is dus die wagwoord.

Mooi geblaas

Red Hot Glass sal jou ʼn warm soen by jou vrou laat kry as jy met een van hulle ʼn Venesiese styl vase by haar aankom. Hulle is spog glo in fênsie hotelle en galerye regoor die aardbol.

Suid-Afrikaanse gunstelinge

As jy na jou ouma se gekook verlang is Bertus Basson se geregte net die ding vir jou.Van slaphakskeentjies tot Tannie Hetta se appeltert kan jy hier uitprobeer.

Mooi getooi

The Trading Company is ook daar. Hier kan jy unieke meubels en tooisels vir jou huis uitsnuffel. Dit het ʼn sterk Turkse en Indiese invloed en word meestal van natuurlike en rou materiale gemaak. (Onthou om manlief se kredietkaart in te pak!)

 

Hoe kom jy daar en hoe vind jy meer uit?

  • Besoek gerus hulle webtuiste spiceroute.co.za vir meer inligting.
  • Hulle het GPS koördinate, padaanwysings en ʼn aflaaibare padkaart sodat jy kan seker maak jy kom daar uit.

Epos hulle gerus by info@spiceroute.co.za as jy vragies het

Foto’s: Yolande van Deventer