Padstalletjies en Kontreikos van die agterpaaie


Min dinge maak my so opgewonde soos om die lang pad te vat, en nog soveel meer as die rit lekker kos insluit. Inteendeel ek onthou reisie baie keer aan hulle besonderse mondwater ervarings.

img_1125

img_1137img_1131img_1133

Dis sulke tyd, die onrustigheid in my binneste het nodig om te gaan asem haal en die padkaart word nader getrek om te sien waar die bakkie se neus heen gaan draai. Die keer waai die wind die seile Kaap se kant toe, maar met ʼn ompad, weg van die aorta paaie af en nader aan die dele waar die land se mense nog rustig en onopgesmuk leef. Boshof, Vanderkloof, Loxton, Sutherland, so trek die stippellyn oor die land. Ek kan nie wag om te sien watter opwindende padstalletjies en unieke kos plekkies ons gaan raak loop nie. Dit is juis my pen se doel die keer, om vas te lê op swart en wit, daardie erfeniskosplekkies wat die warm gevoel van padkos gee tussen Boksburg en Worcester.

Die Houtbalie padstal en pannekoek in Boshof

Op Boshof het ek met my eerste groot weg-swemgala my skoon uit die swembad geswem, (moet liewers nie vra nie) en my pa en sy kant van die familie het plase hier in die distrik gehad. So tussen ʼn foonoproep na my pa toe om bietjie geskiedenis te vra, ry ons die klein dorpie die Saterdagoggend binne. Ek is lus vir ʼn lekker wildspastei, of iets tuisnywerheidserig en ons ry die hoofstraat af op soek na ʼn kontreiwinkel. Die slaghuis, trek my aandag en ons loer in. Dis nie al nie, net buite hulle deur is ʼn pannekoektent en die reuk verlei my. Die bakker het net twee pannetjies, ʼn uit voortand en ʼn bloutand gehoorstuk op sy oor en ek wonder nogal oor die windmakerige tegnologie. My gewonder word gou beantwoord toe ek sien hoe sy foon onophoudelik lui van mense wat wil bestellings plaas. Hy het al sy hande nodig… “Ja tannie, ek is oop vandag, ek is hier by die slaghuis. Vyftig sê tannie? Nee goed, bring maar die mandjie.” Nie lank nie of die parkeerarea wemel van die omgewing se mense om die pannekoek te kom verslind.

die-houtbalie-padstal-boshof padpredikante-boshof

die-eienaars-van-die-houtbalie die-houtbalie-padstal

Net voor ons die dorp uitry, op pad Kimberley toe, roep ʼn paar veelkleurige padpredikante en vlaggies my om te kyk na die padstal aan die regterkant. Die Houtbalie Padstal. Wat ʼn verassing is die binnekant nie. Die eienaars (Johannes, Eugené en hulle seun Hendrik White) is netjiese mense en die oom is ʼn kranige skrynwerker ook. Jy kan sy werkswinkel aan die agterkant van die padstal sien as jy mooi vra. Die meubels is spoggehalte. Die tannie vertel my die geskiedenis van die winkel en wys my die kwitansies van toeka se tyd wat hulle in sakke ontdek het toe hulle die plek gekoop het. “Dit was altyd net die oom se werksskuur, maar toe daar soveel mense begin stop en vra of dit ʼn winkel is toe is die saadjie geplant vir die padstal, dit is immers op die hoofpad tussen Bloemfontein en Kimberley. Die koffiekroeg gedeelte het ook nou bygekom.” Daar is leerhandsakke en teddiebere wat vir geen boetiek sal terugstaan nie, om nie eers van die koekies en beskuit te praat nie. Ek koop sommer ʼn lekker groot pak vir koffie die volgende more. Die wa wat daar binne staan se eienaar kom loer ook glo gereeld in om te sien of hulle mooi na hom kyk.

kwitansies-van-toeka-se-tyd-die-houtbalie gevlegde-leerhandsakke-die-houtbalie die-houtwerk-werkswinkel-by-die-hout-balie-padstal die-houtbalie-lekkernye-en-blikbekers

Loxton se Rooi Granaat

As jy op ʼn Sondag deur die Karoo ry, moet jy een ding weet….die meeste klein plekkies word opgerol en weggepak vir die dag. Behalwe nou vir die kerk, sommige slaghuise en Die Rooi Granaat op Loxton. Van De Aar af, met sy enorme sonplase, tot Victoria-Wes is toe tydens ons tog van Vanderkloof dam af na Sutherland toe, waar ons aand twee gaan slaap. Op Victorias-Wes kry ons wel ʼn klein slaghuisie oop en ons koop summier die oom (wat rustig die koerant lees) se skaap-beeswors. Net ingeval ons die Jupiter restaurant, op Sutherland, nie meer gaan oop vang nie. Die pad Loxton toe is anders mooi. Wyd en stil. Die veld lyk soos ʼn bruid op haar troudag, spierewit van die veldblommetjies wat gesig wys na die lekker reën.

Ons kom Loxton in en ek onthou jare terug toe ek en my pa daardeur gereis het hoe die dorp gegons het oor die beroemde boy-band, Blue wat hulle musiek video daar gemaak het. Dit is nie waar die dorpie se faam gestop het nie. Iets aan die straat waarin ons ry lyk vir my vreeslik bekend, maar ek sukkel om dit te plaas. Toe tref dit my. “Daai bekende fliek met Theuns Jordaan en Elizma Theron is hier geskiet!”, vertel ek opgewonde vir my man. “Ag wat is die naam nou weer?” Jakkelsdraai, onthou ek toe ek die blikbeker lees binne in die Rooi Granaat, Loxton se sjiek koffiewinkel. Die tannie agter die toonbank het net die hele gemeente klaar frikkadelbroodjies en tjips gevoer en ons vang haar op toemaak tyd. Sy is heeltemal bereid om gou vir ons ietsie aanmekaar te slaan, maar ons wil nie pla nie en koop toe outydse kondensmelk-aartappelslaai in ʼn botteltjie en Loxton Larger, ʼn bier wat die geur van die karoobossies vasvang. Dit het heerlik afgegaan saam met ons worsie die aand op Sutherland (wat geen krag gehad het nie). Jy kan ook Deon Meyer se nuutste topverkoper hier koop! Die plek is sommer baie op die bol, dis verseker ʼn besoek werd.

die-rooi-granaat die-rooi-granaat-se-bestuurderes die-rooi-granaat

Hokaai Padstal van Verlatenkloof

Dag drie draai die wiele Matjiesfontein se kant toe waar ons vir die laaste stukkie op die hoofslagaar gaan klim tot op Worcester. Die plat landskap verander skielik in berge wat bo jou uittoring en ons gaan ʼn kloof binne, Verlatenkloof. ʼn Bordjie wys dat daar oornag fasiliteite en ʼn padstal is en daar word briek aangedraai. My dogtertjie gewaar dadelik die mak Springbokkies en sit kaalpoot af soontoe. Díe padstal is soos om in jou ouma se spens is te stap en die gryskoptannie, Alta, wat ons groet se handdruk is net so hartlik soos die lag in haar oë. Sy is ʼn grasweduwee, haar man is in die week in die Kaap terwyl sy diekant op die plaas saam met haar seun bly. Eiehandig lê sy meeste van die lekkernye, wat rye vol in die mooiste glas bottels staan, in. “Cappucino kan ek julle nie nou aanbied nie, dit is my skoondogter se afdeling en sy is nog op pad.” Ons koop chillie en granaat blatjang, wat sy ons aanbeveel om saam met roomys of kaas te eet en koedoe biltong, waarvan sy tot die jagter en slagter ken.

bottetjies-lekker-by-hokaai-padstal hokaai-padstal-verlatenkloof mak-springbokkies

Kouend ry ons aan en ek voel sommer trots, trots dat daar nog soveel opregte kos en mense nog in ons land oor is. Ek verruil hierdie erfeniskos nie sommer vir die plastiek van die hoofaar nie, nee wat gee my die padkos van die agterpaaie.

Foto’s: Yolande van Deventer