Ons eie Pentagon


Dit is nie net Amerika wat spog met ʼn Pentagon nie, ons eie moederstad het ook een! Die Kaap de Goede Hoop Kasteel is dalk bietjie versteek tussen Kaapstad se nuwe geboue, maar fort bly hy fort.

img_0133 img_0131

Ons kom Kaapstad op die groen vliegmasjien binne en kry opgewonde ons Ford Figo, waarmee ons die stad gaan rooi verf die naweek. Ons het ons mooi-moois ook ingepak want ons kom immers eintlik troue in Noordhoek hou. Maar terwyl ons hier is gaan ons so bietjie vir kleinding ietsie van ons geskiedenis wys. ʼn Mens moet tog weet waar jy vandaan kom.

Die Kaapse nooi het duidelik ook haar kisklere aangetrek vir ons, want vir ʼn mooier dag kon ons nie gevra het nie. Die bekende Suidooster was nog besig om te dut en die see was kristalblou. Die stad het gewemel van oorsese toeriste. So erg dat die kabelkarretjie kaartjie tou langer as ʼn kilometer was! Ons neem foto’s by die uitkykpunt en sak af na die Kasteel toe.

Baken van die Taverne van die See

Al is die verkeer in Kaapstad senutergend (selfs vir verkeer-fikse Gautengers soos ons), het jy darem die berg en die statige argitektuur van die stad se geboue om na te kyk om jou kalm te hou. Eers ry ons die versteekte ingang, op die hoek van Darling- en Buitenkantstraat, mis. Na ʼn klein ompaadjie stop ons teen een van die bastions se voet. (Die vyf is mos vernoem na die titels van Willem, Prins van Oranje:Leerdam, Buuren, Catzenellenbogen, Nassau en Oranje.) ʼn Vriendelike troepie het ons by die hek ingeteken.

Die Kasteel de Goede Hoop het nou wel vuilgoed wat welig op die mure groei en die grassies was maar vaal en onversorg toe ons daar verby was, maar agter die mure lê ʼn avontuurskatkis van geskiedenis. Dit was ook eeue terug ʼn welkome gesig vir moeë, matrose, wat verwys het na die Kaap as die Taverne van die See. Hierdie pentagon van ons staan al van 1679 af! Ek kan my nogal ʼn aksie fliek, wat in die 1600’s afspeel, hier sien geskiet raak.

Die mure is in vandag se terme nie juis baie hoog nie, maar die bouwerk (van plaaslike klip) is heel indrukwekkend. Ek verbeel my ek hoor die voetval van perde, maar eintlik is dit ʼn klompie troepe wat verby ons stap om te gaan regmaak vir die sleutelseremonie wat teen twaalfuur gaan plaasvind. Die vyfpuntige Kasteel is steeds een van ons weermag se werkende basisse. (ʼn Feit wat ek tot my skande toe nie geweet het nie.)

img_0129 img_0145

Binne betaal ons die ingangsfooi en kry toe die nuus dat die Kasteel tans weer gerestoureer word en daarom sal ons sekere van die museums nie kan besoek nie. Ek is nogal teleurgesteld, maar aan die anderkant is dit goeie nuus om te hoor dat een van ons kosbaarste erfenismonumente bewaar bly. Ons toergids is ʼn egte Kapenaar en baie spitsvondig. In ons groep was daar onder andere ʼn hele klompie Russiese toeriste. (Wat my nogal laat kriewel het toe ek sien hoe opgewonde hulle is om die Donker Gat te sien waarin mense toentertyd gemartel was…) Miskien is dit maar net my ryk verbeelding, maar dis asof ek steeds die gegil kon hoor daar binne. Ek was lanklaas so bly om weer sonlig op my vel te voel.

Dis moeilik om jou in te dink dat hierdie fort teen die see was en dat een van die bastions selfs gereeld vol water geraak het! Vandag staan dit hoog en droog. Behalwe dat dit vir beskerming gebou was, was dit ook ʼn besige deel van die gemeenskap. Hier was winkels, ʼn kerk, bakkery en natuurlik ʼn maggesyn, wat deel uitmaak van die muur wat die binne en buitehof skei. Ewe in rooi getooi sodat die mense kon weet om nie hier met vuur te speel nie. (Die hele plek sou in ligte laaie opgegaan het!)

Die klok, wat in die kloktoring by die hek hang, kon 10km ver gehoor word. Sy gebeier het onder andere die tyd van die dag en belangrike aankondigings aangedui. Al wat saam met die klok uit die toring gehang het, tydens ons belewenis van die sleutelseremonie, was ʼn nuuskierige vrou se goedbedeelde buuste… Twaalfuur het ons almal nadergestaan om die gedoente te aanskou. Kompleet met uniforms wat toe gedra was, kom die manne verby gemarsjeer om die sleutel by die goewerneur se kwartiere te kry en dan die hek oop te sluit. Groot aandag is gegee om dit presies volgens daardie jare se voorskrifte te doen. Ek voel skoon of ek op aandag wil staan!

img_0214 img_0161

ʼn Groot Geknal

Daarna het ons die voorreg gehad om te sien hoe ʼn klein kanon afgevuur word. Dit word huidiglik aangebied deur een van die lede van die Suid-Afrikaanse Kanonvereeniging vir ʼn donasie. As jy R100 betaal mag jy hom self skiet. My man het nie op hom laat wag nie, aangesien hy ʼn kranige skut en geweerliefhebber is. Onder die luide aanmoediging van sy tweejarige dogtertjie (wat ook mal is oor goed wat kadoef maak) dawer daar toe een donderskoot uit die loop van die kanonnetjie. ʼn Paar van die ouer garde se pasaangeërs was sekerlik ook sommer weer gekalibreer!

Die militêre museum gee jou ʼn kykie in daardie tyd se gevegkuns en ek het die arme soldate skoon jammer gekry toe ek die swaar gewade wat hulle moes dra sien. Die goewerneur se kwartiere is ook pragtig, veral as jy ʼn liefde vir antieke meubels het, soos ek. Die kas wat ʼn bed is het my oog gevang. (Gee heel ander betekenis aan die sêding: Om uit die kas te kom.)

Na die uurlange geskiedenistoer is ek toe nou sommer lus vir Kaapse bobotie maar ongelukkig was De Goewerneur, die restaurant daar, ook onder konstruksie en moes my lus maar bietjie wag. Wat my bybly is dat die kultuur van die Kaap, mense wat eerder kuier as veg, oor al die eeue kom, want die Kasteel de Goede Hoop het nooit ʼn skoot uit kwaadgeid gevuur nie. (Dit sluit nou nie dronkverdriet gevegte van die tapperye in nie.)

img_0170 img_0165

Miskien kan ek eendag teruggaan en ʼn egte bal vir my verjaarsdag daar gaan hou, kompleet met hoepelrokke en witgepoeierde pruike. Hulle laat juis funksies daar toe.

Foto’s: Yolande van Deventer