Naaldwerk is ook Akupunktuur


Akupunktuur is waar hulle jou lyf vol lang fyn naalde op sekere drukpunte druk,  om ʼn kwelling te verlig. Wel om te leer naaldwerk doen het baie dieselfde effek, net die naalde is vetter en stomper.

2011-08-04_10-12-32_282

 

Laat ek vertel. Ek kom nog uit die dae waar ons huishoudkunde gedoen het en deel van die vak was om te leer basiese naaldwerk doen. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek kan die basiese doen (knope aanwerk, some insit, “plain” en” pearl” brei en soortvan ʼn gat toewerk). Die kleremaak gedeelte het ek gewoonlik probeer vermy en die kere wat ons moes, het ek dit so half op onortodokse wyses laat gebeur, want kook was meer my ding. In kleremaak is ek ʼn dubbel L: Learner Learner. Dit was tyd dat dit verander.

Elke 5 jaar in my lewe stel ek vir myself doelwitte om nuwe dinge, of dinge wat ek mee sukkel, te bemeester. Soos byvoorbeeld op 25 het ek besluit dat voor 30 moet ek darem vir ʼn slag ʼn heel omelet kan maak en ʼn driekamp doen. Ek het beide gedoen, laasgenoemde as deel van ʼn span in ʼn 7-kamp. Ek was amper dood maar ons het ons afdeling gewen, as ek nou maar mag spog. (Nie noodwendig te danke aan my bydrae nie, maar ek was daar.)

Na die groot dertig my getref het, het ek nuwes gestel vir voor 35. (Mens moet die sperdatums nie te kort maak nie, dan maak jy jouself net moedeloos.) Doen ʼn skryfkursus, verander van werk en leer klere maak. Die eerste twee kan ek afmerk en die laaste een is tans a work in progress.

Met die beplanning vir die kuier van die skoonies, het ek besluit dat dit die perfekte geleentheid is om ma en skoondogter kwaliteit tyd saam te spandeer en my laaste doelwit te bereik. Sy is ʼn naaldwerk guru en ek erf haar ou naaldwerkmasjien. Die plan was as volg: Ek en Oudste (my skoonsus) sou die materiaal soek, as ʼn projek aanpak en skoonma sal dan toesig hou en klasgee met die maak.

Dis maar hoe ek dinge doen, werk kuier aktiwiteite uit en hou die mense besig, uit mekaar se hare en jou uit die malhuis.

bernina1008-300x230

So gesê so gedaan. Chemieman se beste vriend se troue was op pad en ek besluit toe sommer ons sal rok maak vir die geleentheid. (Nie myself te veel ruimte gegee met die sperdatum hier nie…plus- minus 3 dae.) Die vorige maand het ek al die patrone gaan uitsoek. Myself sommer op die skouer geklop dat ek dit kon regkry om die boeke te bestudeer en half intelligent vir die naaldwerkassistent vra te vra en die regte patrone op te spoor. Eenvoudige prentjies, volgens my.

Ek en Oudste het toe die pad Dubai toe gevat. Dis nou die een buite Benoni, nie die een tussen die sandduine nie. Vol selfvertroue het ek saam met haar in die winkel ingestap. Wat is daar om voor bang te wees? Ek het immers ʼn lapkenner aan my sy.

O genade, was ek verkeerd. Het die plek nou vir my oorweldig! Dit was soos om op Wall Street in te stap op ʼn  markineenstorting. In my lewe het ek nog nie soveel lap bymekaar gesien nie. En die mense om my praat in tale, naaldwerk tale. Gelyktydig en asof hulle dit al jare doen (wat hulle seker doen).

“Kan ons by die patrone begin,” vra Oudste. Sy wou ook paar goedjies maak. “Enige tyd,” het ek vol gevalsde selfvertroue gesê. Met geen idee waar de hel ons die goed gaan kry nie. Maar Oudste is kalm en beheersd. Ons marsjeer voort. Asof ek nou nie al genoeg latte vir my gat gesny het nie, kry ek toe ook sommer nog patrone. Heeltemal in vervoering met die nuwe projek.

Toe bestorm ons die lappe. (Na ʼn paar oomblikke van stille kontemplasie en bordjies lees het ons darem kon uitmaak waar is die kleremaak lappe.)

download (7)

Nie lank nie of ek uhm en ahh soos ʼn wafferse kenner oor die tekstuur en geskiktheid van die materiaal vir ons patrone terwyl ek nadenkend die lappe tussen my vingers vryf. In werklikheid het ek nie eintlik ʼn idee nie.

Dit het my nie gekeer om ʼn trollie vol lap te koop nie. Daarna was dit garing en ritssluiters soek. Vier ure later is ons op pad huis toe. Kekkelend oor hoe ons nou die volgende stap gaan aanpak. Diep binne in my het ek gebewe, wat op aarde het ek aangevang?

My blink denim lap, vir my af skouer rok, is in die was gegooi en ek is geleer hoe om patrone uit te sny. Die volgende middag sou die kaskenades begin.

So met die meet saam, om te sien watter grootte ek volgens die patroon is, moes ek toe nou finaal uit denial (wat tot dusver vir my ʼn rivier in Egipte was) kom. Ek is nie meer ʼn uurglas soos in my prille jeug nie. Nee, ek is nou ʼn peer. Sappig om die boude en bobene.

Ek troos my nou maar self daaraan dat pere ten minste nie hart moeilikheid het nie en dat hulle baie goed gaan saam met port. Hulle help sommer vir konstipasie ook. Boonop moet hulle volgens hierdie fênsie webtuiste meeste van hulle energie van koolhidrate af kry. (Koolhidrate maak my geweldig bly.)

body shape-2

Die volgende oggend is Skoonma op pad om te gaan naels doen saam met Mev S, maar het voor dit eers vir my verduidelik wat is die selfkant en snykant en sommer die bokant van die materiaal. Ek en Oudste sou solank die pante van my rok uitsny.

“Ag julle kan seker maar begin omkap en dalk die maklike goedjies sommer stik ook. Jy weet mos hoe werk die masjien en lees net die instruksies op die patroon,” kom die opdrag na Oudste se kant toe. “Sekerlik ma,” antwoord ek braaf. Maar ek kon sien Oudste lyk bekommerd.

Ons kap dit flou. Tjoef-tjaf is die pante uitgesny en toe kap ons om, wel die materiaal, maar ons ook amper. Met ʼn gevoel van genoegdoening gaan ons voort. Stik volgens die letter die pante aan mekaar tot by die ritssluiter gedeelte. Julle sien, ʼn ritssluiter nie ʼn man se maat nie. Daardie eenvoudige dingetjie, wat soveel van ons as vanselfsprekend aanvaar, kan tot die mees beheersde VLU-dame onwelvoeglik laat vloek.

Die patroon word aandagtig gelees en ons reken toe ons weet nou hoe. Die probleem was ons kon nie uitgemaak kry watter een van die baie Bernina-voete is die een vir ʼn ritssluiter nie. (Ek het nog nie daardie les gehad nie en Oudste het vergeet.) Maar voort wil ons voort. Ons slaan toe ʼn lyn na Mev S vir hulp, en dit is die antwoord wat ons kry:

“Dit is ʼn lang plat voetjie” (meeste van die voetjies lyk so) “Met twee gate” (ʼn hele paar het ook die beskrywing gepas).

Aan ons kant van die lyn het dit net stiller geraak. “Het julle hom?” kom die vraag. “Uhm…nee, nie regtig nie.”

Kliphard in die agtergrond kom ʼn streng stem: “Sê vir hulle om te wag, ek is nou daar.” Dit was Skoonma.

ZipCorrosionSorted01

Ons wag. Intussen oefen ons solank die dialoog, want kommentaar gaan ons kommentaar kry. Dit moet ons weet. Ons het net gewonder watter arsenaal van woorde eerste sou kom. Die tweede debatspunt was of ons solank moet koffie gaan maak, of die wynbottel moet nader sleep. Ek het gestem vir die wyn maar Oudste het die ketel gaan aansit.

“O, julle het met die verkeerde steek omgekap,” is toe nou die openingslyn. “Julle het seker nie die stellings reg gehad nie. Julle moes so en so en so gemaak het.”

“Maar ons het ma,” probeer Oudste verdedig.

“Ek het jou gesê ons moes die wyn oopgemaak het,” laat ek hoor.

Toe ek probeer verduidelik hoe ons die ritssluiter benader het en dat ek besig is om hom vas te steek, gaan die ark se deure oop. Ons moes die naat toegestik het en ons het die rok verkeerd ens. Boonop probeer Skoonma my verduidelik hoe ek die naalde  moet insteek, op ʼn manier wat my nou my man beter laat verstaan. As hulle omgekrap raak praat hulle met jou in ʼn afrondingskool stem. Jy sê amper dankie dat jy uitgetrap is. Mev S sien ek kop nie en probeer ook verduidelik. Naderhand steek sy sommer maar vir my vas. Ek probeer weer met hope akupunktuur in die proses.

IMG_0888 - Copy

“Dan stik jy sommer oor die naald wat dwars is, en moenie bekommer nie jy sal nie ʼn masjiennaald breek nie.” Heel teenstrydig met wat ek die vorige dag en die oggend gesê is.

Ek sien skoonma se oë rek en op daardie stadium het Oudste die kookwater oor die groente gegooi en die wyn geskink. My senuwees was rou. Maar ek is kalm. Basies moes ons net alles oordoen, dis nie so erg nie, is dit?

Tog het ek wonder bo wonder dit reggekry om die rok die aand klaar te maak. Hy was pragtig en ek vreeslik trots. Tot my stewels het perfek daarby gepas. Ons was die tema van die troue in sy volle glorie. Demin-plaaskuur-onthaal troue.

Daardie aand het ek gedroom ek is verlore in die Mede en Perse tussen brokaat en kant. Die res van die proses gaan oor een week weer aan wanneer ek die ander berg materiaal in drabare voorwerpe gaan verander. Dit onder die waaksame oog van Skoonma wanneer ons af gaan see toe. Dan vertel ek meer.

Fotos: foto van: Sewchem, Bernina, Susi O Flynn, Pose Pros, Zip Care

;