ʼn Stywe nek as behoud teen ʼn ander vorm van gatvol.


Ons het hom deesdae almal, daai stywe nek. Die een wat nie meer jou kop laat links of regs draai nie. Jy staar liewer net voor jou uit. Dis ons pantser teen ʼn omgewing wat net wil vat en niks gee nie.

02f0a4e83a15578ed2b4cd8f76b94936

Ek ry vir die hoeveelste maal vandag werk toe deur City Deep se rook, Yeoville se taxi’s en boemelaars wat in die ivy’s vuur maak en slaap in olievuil komberse. Ek luister Jacaranda se Good Morning Angles vanaf Steve Biko se kinderonkologie eenheid. Dis ʼn klipgooi van my kantoor af. Die trane loop vrylik.

Trane wat moet help om net bietjie die vuur van gatvolgeid af te koel, trane nie net vir die kindertjies wat so verbete veg teen die negatiwiteit wat ons kanker noem nie, maar sommer trane vir ons land, my eie volk se mense en die ander mense.Ons wat tot in ons murg toe moeg is vir korrupsie, misbruik, en die eieregtighied en entitlement. Landuit is nie nou ʼn opsie nie. My graad, wat beskou word as iets in die land, word nie eers erken op ander plekke nie, maar dis nie al rede nie. Ek het nog iets om te doen hier, ek voel dit aan my broek.

Ek ry Maandag met my dogtertjie na die kwekery toe om my plastiek en bottels te gaan herwin. ʼn Man help my ongevraagd die goed aflaai. Ek kan dit heeltemal by myself doen, maar dis uit my hande voor ek kan keer. Nooit hoef ek tips te gee by ʼn herwinningspunt nie. Ek maak reg om te ry. Jou wragtag, hy klop aan my venster. Gatvol stoom by my ore uit, want waar de joos moet ek nou nog kleingeld opdok vir iemand wat reken hy is geregtig om geld te kry net omdat hy ʼn daad gedoen het wat voorheen as hulpvaardigheid gesien sou word. Hulle word immers deur die herwinningsmaatskappy betaal. Wyer ek, staan ek die kans van aanranding.

Wanneer het hulpvaardigheid, om te groet en bedag te wees, ʼn beroep geword?

Ek ry in my baan en besef ek kyk nie meer links of regs nie. Ek wil nie meer oogkontak maak nie, want netnou soek iemand iets by my. Van die winkels wat jou kastig bestorm om jou te help, maar eintlik kyk dat jy nie steel nie, tot lastige hande wat allerhande grimering in die mall aan jou wil afsmeer en karwagte in ʼn parkeerarea waarvoor jy reeds ʼn parkeerkaartjie betaal het.

Dis nie dat mens nie meer ʼn hart het nie, dis net dat jy so dun geskaaf is, so moeg is dat jou sagte hart en welwillendheid blatant uitgebuit word. Wit mense wat pateties staan en bedel, maar geen werk wil aanvaar nie. Swart kindertjies wat hulle opmaak en ʼn vrolike tapdans uitvoer om jou te vermaak in die verkeer vir ʼn geldjie. Wie is meer vindingryk en verdien die ekstra paar sente wat oor is nadat jy reeds raap en skraap om jou eie begroting te laat klop? Ek is trots blank en Afrikaans, maar ek is nie blind vir domastrant nie.

Ons eie oprit is nie eers meer veilig nie. Die heel dag word daar aan jou gesuig en dan kom jy by die huis en word oorval deur mense wat jou inwag by jou hek om twak aan jou af te smeer en op jou gevoel speel voor jou kind. Ek sit stywe nek in die bakkie en wag. Staar vir die garage deur en verduidelik vir my kind dat ons wag vir haar pa om die man te kom verwyder, want ek wil nie my kind se mededeelsame geaardheid besoedel met my afjakke wat sy nie nou al sal verstaan nie.

Ek gee om, baie om. So baie om dat ek en my man so te sê 4 huishoudings versorg, plus bydraes vir ons eie ouers se versorging maak. Die verskil is daar is simbiose. Die arbeider is sy loon werd en verryk ons lewens ontelbaar sonder dat ons daarvoor vra.

Daagliks sit ek my bot mens masker op, om te oorleef. Is dit reg? Seker nie. Probeer ek steeds uitryk. Ja beslis, ek probeer dit doen daar waar ek nie iemand net ʼn vis gee nie, meer eerder daar waar ek iemand leer vis vang. Word ek woedend? Daagliks, want ek sien hoe ons almal magteloos sit in ons stywe nek ketting en dieper sink.

Jy moet jou naaste lief hê soos jou self, maar ek gaan my ook nie met die semels meng dat die varke my kan opeet nie. Daar is ʼn gatvol wat in my groei en my nek styf ruk, maar nie een wat nie meer wil links of regs kyk nie, een wat wil kant toe kyk en met trots en beslissing weer verantwoordelikheid aanvaar om ongeregtigheid, slapgatgeid, trotseloosheid en onregverdigheid aan te spreek vir dit wat dit is, onaanvaarbaar.

Ons nasie moet mekaar weer leer opvoed en opbou sonder om te wag vir ʼn jellyvis aan bewind en windbol politikuste om dit vir jou te laat gebeur.