ʼn Fraaie Paarl-juweel in ons eie Franse hoek


Die Paarl steek sy vinger hoog op vir ʼn jong, maar karaktervolle taal en Franschoek herinner my aan die leeuemoed wat in ons are loop. Iets nostalgies mooi pluk aan my hart tussen die blou berge van die skone Kaap.

img_2042 img_2041

Koetse, perde, korsette en rapiere afgerond met die wynland se fynste oes en dik onderstreep met romanse, dis hoe die skrywers van my jeug die Paarl en Franchoek in my gedagtes vasgevang het. Vandag kom ons Franschoek binne oor die pas van Villiersdorp se kant af. Ons is op pad Paarl toe vanaf Worcester (waar ons by my man se oom kuier in die wingerde). Selfs die vrotste fotograaf sal ʼn poskaart kiekie kan neem, want hierdie berge is die supermodelle van ons Suid-Afrikaanse landskap. Blougrys en statig. As hulle kon praat sou hulle in my kop ʼn swaar Franse aksent gehad het.

ʼn Erfenis vir almal

Ons stop eerste by die Hugenote monument, want hoe kan jy nie hier ʼn draai maak nie? Die ryk simboliek is universeel vir almal wat glo aan vryheid van geloof en gelyke regte. Dit is nie net een nasie se erfenis nie. Dit is ook ʼn raakskoot inspirasie vir die van ons wat soms so swartgallig raak en net wil opgee. Langsaan pryk twee pragtig onderhoude museums en keurige koffiekroeg. (Ongelukkig het beurtkrag ons planne om hier ontbyt te eet in die voet geskiet.)

img_1878 img_1900

Jy mag nie foto’s in die museums neem nie (so julle sal maar self moet gaan kyk om my te glo), maar dit keer nie my verbeelding nie. Ek wonder hoe dit moes gevoel het om op die skepe, waarvan daar die mooiste modelle vertoon word, te reis oor die Kaap van storms se waters en ek hoor die gesprekke wat oor die kristalglase en mooiste porselein plaasgevind het, aan ʼn versigtig afgewerkte houttafel. Ter selfdertyd ruik ek die geurige kontreikos wat in die werkershuise geprut het, aan die einde van ʼn lang dag in die wingerde. Vir ʼn oomblik word jy heeltemal teruggepluk in tyd. Groot dele word in Frans verduidelik, jy kan dus jou Skool-Frans hier kom afstof. Die kleurlingmense wat hier werk, is vriendelik en praat hulle skerp Afrikaans soos net hulle kan.

Daar is ook ʼn sonhorlosie en ons het onsself vermaak deur die tyd op hom uit te werk. Baie akkuraat moet ek sê. My ingenieurs man was vreeslik beïndruk en my woelgat dogtertjie het haar vergaap aan die mooi tuin deur my kameralens.

hugenote-museum img_1859 sonhorlosie

Soete verleiding

Na die stoppie het my neus net een rigting geken , en dit was na die bekende sjokolademakers, Danver Windvogel en Denver Adonis se winkel (Huguenot Fine Chocolates) toe. Ek bid kliphard dat die krag al aan is, sodat ons die sjokoladetoer kan gaan doen en dalk kan waag om ietsie te self te maak, maar sukkel om die teleurstelling weg te steek toe ʼn donkerte ons begroet met die instapslag in die winkel in. Om eerlik te wees is die winkel self nie so indrukwekkend nie, maar die sjokolade is wel! Grootoog het ons al drie ons neuse omtrent platgedruk ten die yskas se ruit om te besluit watter van die dekadente balletjies ons gaan koop. Jy betaal ʼn prys per 100g.Met papierkardoesies vol eksotiese smake van sjampanje, melktert, chillie en Pintoge is ons daar uit en vir die eerste keer van my kindertyd af eet ek sjokolade vir ontbyt. Loer in by www.huguenotchocolates.com om ook vingers af te lek.

img_1912 img_1910

ʼn Vierwiel bederfie by Anton Rupert

Die R45, uit Franschoek uit, kronkel tussen die mooiste wynplase deur, maar wynproe saam met ʼn twee en ʼn halfjarige kan dalk lol, ons hou dus maar verby. ʼn Ander bordjie van ons oog, die van ʼn kar museum aan die voet van die mooi berg links van ons. Ons draai in. Die oprit is tussen die mooiste bome en langs indrukwekkende tuine en perde. Die Franschoek Motor Museum bied die besoeker 4 groot store met die mooiste karre wat die motorgeskiedenis van die laaste 100 jaar uitbeeld en is die eiendom van die bekende Anton Rupert. Jy kan ook Madiba se gepantserde BMW daar sien. Die ingangsfooi is billik en daar is ʼn baie oulike eetplekkie aan die binnekant. Jy kan natuurlik van hulle plaas se wyn, vonkelwyn en heuning ook daar koop. Besoek gerus ook hulle webwerf om meer uit te vind. (www.fmm.co.za).

img_1973 franschoek-motor-museum

Die Paarl se vinger

Dis nogal ʼn steil bult uit na die taalmonument, wat soos ʼn reuse lang vinger die hemele intoring, toe. Die uitsig is ʼn asemrowende panorama en my vinger kan nie gou genoeg die prentjies vasgelê kry op die Canon nie. Ek kan nie help om te voel hoe my bors swel van trots vir my taal nie. Duidelik voel die mense hierrond dieselfde want dit weerspieël in die instandhouding van die monument en die pittige sêgoed in Die Volksmond, die monument se koffie en geskenkwinkel. By die inligtingsentrum vertel die dametjie agter die toonbank ons breëbors hoe dit die monument se 40ste verjaarsdag die jaar is, en dat daar ʼn groot fees gehou gaan word. Blykbaar het hulle nie net sulke groot geleenthede nodig om vermaak aan te bied nie, kort-kort is daar een of ander uitvoering of optrede wat hier plaasvind.

Die tweeling van my man se niggie, kry elkeen ʼn blikbekertjie met ʼn vetplantjie in, waaraan ʼn kaartjie met ʼn eiesoortige Afrikaanse spreuk, opgemaak uit die karakter van die plant, hang. Ons vat die pad na hulle huis toe vir ʼn lekker kuier in die lewendige dorp en my gedagtes dwaal weer oor die roete wat ons hiernatoe gery het. Dit moes nogal swaar gewees het vir die mense wat besluit het om op ʼn ossewa te klim en na die noorde toe te trek, weg van die bekorende skoonheid van die Kaap af, want O vet, dit is darem maar beeldskoon hier!

img_2026 img_2030 img_2031 img_2023

Simboliek van die Hugenote monument (www.hugenoot.org.za)

  • Die vrouefiguur, met die Bybel in haar regterhand en die verbreekte ketting in haar linkerhand, verpersoonlik die gees van godsdiensvryheid.
  • Die Franse lelie (fleur-de-lis) op haar kleed getuig van geestes- en karakter-adel. Sy werp die mantel van onderdrukking af om bo die aardbol in sy eie vrye ruimte van gees te ontstaan.
  • Haar blik is op ‘n grootse visioen van komende dinge gevestig.
  • Op die Suidpunt van Afrika waarheen die wankelende skepies die Hugenote gevoer het, verskyn dan ook die simbole van hul godsdiens (die Bybel), kuns en kultuur (die harp), die land- en wynbou (die koringgerf en druiwestok) en nywerheid (spinwiel).
  • Die drie onaantasbare lugboë is ‘n sinnebeeld van die Drie-eenheid. Daarbo skitter die Son van Geregtigheid en bo hulle staan die kruis as simbool van die Christelike geloof. In die watervywer met die weerkaatsing en in die suilegang op die agtergrond is uitgedruk die ongestoorde gemoedsrus en sielevrede na veel stryd en woeling.

Foto’s : Yolande van Deventer