My Geheime Lewe as Dubbelagent


Onlangs moes ek die werklikheid in die oë staar, ek lei die lewe van ʼn dubbelagent. Deesdae is ek meestal ʼn (nie so super) ma, maar soms kom my alter-ego uit, al is dit net in my verbeelding.

supergirl18

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek dink ma-wees is ʼn beroep wat die nobel prys verdien, ek wens net ek kan die hang daarvan partydae beter kry.

My alter-ego is hierdie sexy, super ma/vrou wat berge versit. Nooit sal jy haar afgemat en slonsig sien nie, selfs haar gemaklike klere is sexy. Haar hare val sommer net vanself reg en sy maak gourmet kos met niks meer as Pilchards en brusselse spruite nie.

Haar onderklere is verleidelik, geen gemaklike katoen broekies en bra’s wat glad nie bymekaar pas nie. (En sy onthou om dit aan te trek, nie soos ek wat onlangs by die werk sonder my buustelyfie opgedaag het nie.) Haar man kry haar nie aan die slaap op die bed terwyl hy ʼn glasie wyn gaan skink het om die voorspel meer romanties te maak nie. Nee, sy is die een wat met sjarme en geduld haar kind bad, storielees, voer (sonder dat die kos geweier word) en dan wulps ʼn paaldansie, sommer om die besemstok, uitvoer en haar man se mond laat water. Dan werk sy nog fenominale werkstrategieë uit net voordat sy salig aan die slaap raak.(Teen twee uur in die oggend).

Nie eers haar kleuter wat twee ure later, met skoppende bene en skerp elmboë, kom inklim los kringe onder haar oë nie. Sy kies nie koffiedrink bo grimering aansit nie en stuur altyd gesonde kospakkies vir manlief saam werk toe.

By die gim lyk sy soos ʼn wikkelpoppie en word sy nie rooi in die gesig nie. Haar kind word nooit voor die TV, met astro’s in plaas van wortelstokkies gelos, net om werk gedoen te kry nie. (Of sommer net jou senuwees ruskans te gee nie.)

Nooit kry sy daardie gesplete gevoel wanneer jy eerder jou kind se beste vriend in plaas van die in-beheer-ouer wil wees nie. Wanneer die nuutste kattekwaad vir jou na ʼn uitstekende plan lyk en jy graag sou wou meedoen. Maar jy kan nie want jy moet die bloedjie opvoed.

Haar juwele is pragtige goue fyn goedjies en nie hout en plastiek krale wat jy nie oor hoef te huil as jou kind en die hond toutrek daaroor nie. Sy is so te sê perfek.

Ek sien haar so skrams vir vyf minute in die oggend. Die vyf minute voor die voetstappies in die gang afkom en die wekker afgaan. Voordat ek met my gemaklike T-hemp uit die bed strompel om die ketel te gaan aansit. Ek salueer haar en haar Revlon lipstiek en stoot haar dan uit die pad om my gemaklike kreukeltrae broek uit die kas te kry.

Verbete klou ek vas aan hierdie dubbelagentskap maar 00-supervrou moet maar nog ʼn rukkie wag. Mamma-allegdaags moet nou eers haar ding kom doen.

Foto: Super Girl