Makietietyd


Chemieman en Zerzant (Zerande se algemene titel in die huis) verjaar albei 30 Maart. Die een om twee te word en die ander een staan op sy laaste trap voor veertig. Mamma is dus besig om kliphard te beplan aan die Groot Makietie.

ws_Christmas_Champagne_1440x900

My ma kon my maar net sowel haar doopname gegee het: Johanna Jacoba, want die boerebloed loop so dik soos vla in my are. Ek is boonop heel tuis in my voorskoot. Nee kyk, niks kan mos op klein skaal gedoen word nie, al probeer ek met die beste van my intensies. Voor ek my kan kry dan nooi en voer ek ʼn skare. Die ding begin altyd skelm en groei totdat dit ʼn hele produksie is. Ek begin dan blaf soos ʼn samajoor in die huis en gryp na die wyn.

Dis asof ek verslaaf is aan die euforie van angs en opgewondenheid. Dit jaag my drie uur in die oggend op om die beplanningsboek te gryp en as die gees my heeltemal oorval, dan begin ek sommer bak ook. Ek mor en teem so onderlangs, maar almal weet my oë blink eintlik erg van afwagting. Daar is min dinge so sielsverblydend soos om die vreugde en genot op jou gaste se gesigte te sien as jy hulle bederf.

20150325_072110

Die probleem is hierdie pionier-voortrekkerbloed van my. Dit maak my soms mal. Ek kan niks net klaargemaak koop nie. O nee, ek moet dit mos self maak, want netnou kan ek dit beter doen. Gegee het ek darem oor die laaste paar jaar besluit dat Tannie Ina Paarwater (my man se naam vir Ina Paarman) darem die toets geslaag het en dat skilferkorsdeeg baie makliker gekoop as gemaak word. Die res egter, moet altyd nuutskeppings wees of ten minste ʼn kreatiewe weergawe van die idee wat ek by iemand anders steel. Mens moet darem jou eie karakter ook hê voel ek.

Partymaal kom die idees soos masjiengeweerskote in my kop in en kortsluit my brein soos ʼn epileptiese aanval. Dan oorval ʼn naar gevoel my want ek kry nie gekies nie. Gewoonlik tjop die bossies in die tuin dan af totdat my brein weer werk.

20150325_072511

Vandag begin die doen gedeelte van die maand se beplanning en gaan ek spin soos ʼn Spur- waiter op ʼn Vrydagaand. Vrydag is Zerzant se Towertuinpartytjie saam met die maatjies. Die wipmat vir haar verjaarsdag geskenk is klaar opgeslaan, ek het ʼn opblaas swembad vol balle vir die landingsplek onder die glyplank en die partytjiepakkies is klaar gemaak. Die bloedjies gaan plantjies plant en ʼn laken besmeer met verf ook. (Ek dink amper ek is meer opgewonde as hulle.) Die mammas sal giggelsappies en verversings kry. Ek moet nog net die “topsy-turvy” koek bak en oortrek met fondant. (Waarmee ek nog nooit gewerk het nie.)

Ons is pelle met hulle ouers, so díe kom sommer solank vir Chemieman se verjaarsdag ook. Dit is die jonges se partiekie, deel een. Boerworsrolle sal dit wees. Moet nog net die slagter gaan vra vir 3kg wors. (Ek dink nie hy gaan verstaan as ek sê ek soek 24x 15cm worsies nie).

20150325_072033

Saterdag is deel twee, wanneer twee stelle van ons ander (effe maller) vriende kom.( Die kinkel hier is ons moet nog eers ʼn ander maatjie se verjaarsdag ook gaan bywoon…). Die belangrikste gebeurtenis vir die dag is wanneer my skoonmense arriveer die middag. Hulle was twee jaar laas hier en bly vir twee weke. Die volgende naweek gaan ons troue hou. Chemieman se beste vriend trou, en hulle gaan ook. So dis twee vlieë met een klap. Twee lamsboude en ʼn appeltert sal die ding doen hier.

Sondag gaan die teater se gordyne oop en is dit die Groot Makietie. Hy het ʼn tema ook. Die Grênd White. As ek dan nie hierdie gebeurtenis kan gaan bywoon nie, sal ek dit na my huis toe bring. Van die gaste kla dat hulle te dik gaan lyk en een van my vriende het gevra of hy dan maar kaal kan kom, hy is dan nou juis spierwit. Maar ek gaan my nie laat ontspoor nie. Die gemeste kalf, of in die geval die geseënde hoenders, is geslag en die Mandela-mikrogolf (kolossale driepootpot) gaan opgesteek word. Potjiekos in styl met dekadente tjoklit-mousse-mint koek. (Ek moet nog die self-uitgedinkte ding bak.)

20150325_072642

So lui my foon gistraand en is dit skoonpa. “Man, jy weet Tannie Lynn wat kom het met Tannie Monica gepraat…. en sy gaan ook nou kom. Is dit reg?”

Tannie Lynn en Tannie Monica is my skoonpa se niggies wat hy jare laas gesien het. “Nee dis reg pa.”

Vyf minute later kry my man ʼn sms: “Tannie Jean-Louise gaan ook kom.” Dit bo op die 20 wat reeds kom.

So groei die gastelys toe nou soos ʼn boontjierank in 30 minute. Die pot is nie die probleem nie. Wat op aarde voer ek hulle almal voor die tyd? Waar gaan ons almal sit? My kop tol soos ʼn rondomtalie. Julle moet weet dit is die ouer garde wat Sondag kom en onder die gaste is vooraanstaande gewese Rotary en VLU tannies. (Waaronder my skoonma maar net die president van die Anne’s was.) So dit kan nou nie sommer net Provita’s en kaas wees nie.

Ek kry daai naar gevoel waarvan ek julle van vertel het en gaan slaap toe sommer.

Dankie tog ek het met ʼn kop vol planne wakker geword. Moet nou net kalmeer en delegeer en seker maak almal se kooigoed is reg. (Dankie tog vir Gladys.) Hou duimvas dat ek nie hierdie partytjie-wa van die berg af ry die week nie. Dit is darem nou eers Woensdag, daar is tyd vir krisisbestuur. Volgende week vertel ek julle alles wat gebeur het en gee wenke oor hoe om mense besig te hou vir twee weke.

Voorwaarts! Bak!