Makietietyd, die Nadoodse ondersoek.


Dit is seker nou al twee maande terug wat ons makietie gehou het vir my man en kind, met die skoonies wat kom kuier het. Ek het nou moed om die nadoodse verslag te lewer.

Vrydag

Die Vrydag van die wilde naweek het toe aangebreek. Ek het my rooi tutu en heksehoed opgesit en my staf vir almal en alles geswaai sodat die tuin in ʼn Towertuin kon verander. Die weer het seker die donder in my aangevoel, want die het toe sommer ook begin saampak. Niks kon my keer nie.

Met die vasberadenheid van ʼn Gladiator het ek Mr Price Home ook nog die oggend bestorm, om vir die tuin se rottangstel nuwe kussings te gaan koop. Die viervoet kroos het die voriges tot watte gereduseer. (Ek het darem onthou om die tags af te sny voor die gaste gekom het.) Daarna het ek tafels en stoele by die partytjieplek gaan oplaai. Ek het niks ontsien nie, daar was tot wit jassies, silwer strikkies en pêrelwit balonne vir die Grênd White van Sondag. Ons kon net so wel troue gehou het.

Die helpers by die huis het gespark soos sparkplugs. Maxwell het die tuin skoongemaak, lapa geskrop en die klein tafeltjie en stoeltjies van die kinders heen en weer vir my gedra, toe die weer dreig, en die 25 stoele wat ek daar aangebring het weer wit gekry. Gladys het gelyk soos ʼn verestoffer op turbo. As jy haar vra wat jaag haar dan sê sy net: “Jy weet mos Landie, die mense sal praat, hulle sal sê daai vrou sy kan nie skoonmaak nie. O nee! Ek kan dat hulle so praat nie.”

IMG_0729IMG_0689

Zerzant se koek het, dank die hemele, pragtig uitgekom. Ek moes bontstaan om haar van om af weg te hou. Chemieman se sjokolade koeke was ook klaar gebak en moes ek die Saterdag net die mousse maak, en die dekadente storie aanmekaar sit. Al die brêkfis goedjies vir die naweek was reg en middagetes vir die res van die volgende 10 dae was, soos soldate op roep, in die vrieskas gepak. Ek was so gereed soos ʼn koshuisbrak vir inspeksie.

IMG_0731IMG_0746

Die kinders se eterasie was die minste van my stresserasie. Hulle het oulike tuinemmertjies met alles wat op stokkies kon pas (en gesond is) daarin gekry. (Ek moes opmaak vir die moerse soet koek.) Die mamma’s se borretjiesap was klaar op ys en my koeldranktenkie was vol. Vrolike kolletjie ballonne het die towertuin (vir my die slagveld) aangedui. Die gaste kon maar kom.

IMG_0812 IMG_0782

Dit was so hittete of een van die maatjies kon nie kom nie. Hy was olik, maar ons het gereken hy is nie meer so aansteeklik nie en ons sou die kans vat. Die drie het heerlik gespeel, koek geëet (dat die fondant tot agter hulle ore was) en Daniël het selfs die glyplank agterstevoor wou aandurf. Mamma het byna ʼn ambulans nodig gehad toe sy dit sien, maar sy pa was flink by, om ʼn ongevalle te keer. Ek het maar net haar glasie volgehou. Die boereworsrolle was die aand ʼn wenner en ons het heerlik ons hare laat sak.

Saterdag

Een klaar, twee om te gaan. Vrydag se sukses is vet op my vuur. Die dag het nog nie eers gebreek nie, toe sien jy net my voorskoot wapper soos ek in die kombuis rondhol hom ontbyt vir die nuwe stel gaste reg te kry. Dis jare lange vriende van my, Isabel en Deon, en hulle het twee rooikopmanne, wat soos ʼn orkaan van ʼn ander klas te kere kan gaan. Alles wat kan breek is hoogwater geskuif en die honde is gekalmeer. (Hulle het hulle vorige kuier skaars oorleef.) Die ander stel vriende kon nie kom nie, want een van die perde is deur ʼn slang gepik.

Isabel, is ʼn bakster van formaat en ek het haar strategies ingespan om my te help om 30 kolwyntjies te bak en my die mousse koek aanmekaar te sit. Die klem was om my te help, nie om soos wat gebeur het, sommer alles self te doen nie. Maar ek teem nie. Dit was net klits hier en smeer daar en alles was klaar. Nog ʼn regmerkie op my lysie. Volgende was Daniël se partytjie. Ek, Isabel en Zerzant (in vreeslike netjiese klere) is daar weg om vir twee ure hard te gaan Lollo’s partytjie hou, om dan terug te gaan en die skoonies te ontvang. Die manne het solank die boude bearbei vir die spit. Kalmeer en delegeer was my leuse.

Een slapende kleuter en twee ure later, is nog ʼn deel van die dag suksesvol afgehandel. Ek was net verlig om te sien die huis nog op sy fondamente staan. Die twee manne is albei hiperaktief en hul moeder het my meegedeel dat sy hulle ʼn pilletjie-vrye naweek gegee het. Die orkane het tsunami’s geword. Chemieman het my gesig gesien en my belowe dat hulle al die ergste opgeruim het. (En die kombuis halfpad herbou het.) Hy het net stil omgedraai en my verder help opruim sodat sy ma, met haar twee knievervangings, nie nog ʼn heupvervanging ook moes kry nie.

Die skoonies het 6 uur gearriveer, die boude was sousig en reg, die aartappels hemels en die wyn fantasties. Laataand het ek moeg maar met lekker harte gaan slaap….tot 3 uur toe.

Sondag

Ek dink dit was meer my desperate hunkering na stilte as die drogbeelde, dat niks gaan reg wees voor 25 mense op ons toesak, wat my opgejaag het. Dit was so vreedsaam. Ek en ons een hond, Portos (want hy hou van kos, vrouens en slaap) het stil-stil die lapa omskep in ʼn klein wit paradys. Teen die tyd wat die huismense ontwaak het, was die skottelgoed so te sê klaar gewas, ontbyt gereed en die koffie sterk. (Ek moes dalk toe al brandewyn bygegooi het…)

Pannekoeke gevul met salm-en-kekerertjiemousse en spinasie en feta was my oplossing vir die voorgereg. Al die VLU tannies het ook hulle name hoog gehou en ʼn bordjie snoephappies gebring. Die pot in sy pragtige lae was aan die prut. As alles goed gaan sou ons teen tweeuur opdis, of so het ons gedink.

Toe gebeur dit. Die perfekte prentjie begin kraak. Soos ek die rys in die pot gooi, wriemel die miet ook rond. Ek haal diep asem, vloek met al die letters van die alfabet in my kop en sê kalm vir die mense dat ek net gou winkel toe gaan. By die kafee op die hoek glimlag die Indiër-eienaar vir my met dollertekens in sy oë, toe ek hoes vir ʼn pakkie rys. Maar wat kan ek doen?

Terug by die slagveld, sê ʼn stemmetjie vir my om net die koek te bekyk. Ons het vroeër die ringe en waspapier, wat die delikate stapels op mekaar hou, afgehaal. Dis ʼn fiasko. Die een koek het afgesak soos ʼn tannie van 80 se buuste en die ander een het seker silikoon gehad, want dankie tog hy was nog vertoonbaar. Ek het my mond oopgemaak om te gil, maar besluit om eerder my skok weg te drink. Ook maar goed want toe kom tweeuur en my Chemieman saam by die deur in en vertel my dat die groente nog nie gaar is nie en die hoender al begin brand. Die laasteminuut gaste het, bo-op alles, dit op hulle self geneem om te mor dat die kos nie reg is, soos gesê was nie.

Ek wil bid: “Here laat hierdie beker tog by my verbygaan.” Dis wat gebeur as jy die ouetehuis in jou huis het. Hulle is so gewoond aan ʼn skedule dat hulle al vergeet het hoe om te kuier. Van wanneer af was ʼn potjie al ooit op tyd gaar?? Ek sit die oond om helwarm, gryp skottels en gaan skep die groente af, onder die priemende oë van ʼn klomp fossiele. Prop dit in die oond en voer hulle toe verbrokkelde hoeder en kraakvars groente ʼn halfuur later. (Die rys was ten minste goggaloos.)

Soos aasvoëls val hulle die kos aan en begin groet om huis toe te gaan so met die laaste happie nog in hulle monde. Ek is stomgeslaan. Skoonpa skuif rond soos iemand wat ʼn jeukende aambei het, maar niemand sê ʼn woord nie. ʼn Afrondingskool sou my met cum laude laat slaag het vir die hoflike manier waarop ek die gaste gegroet het. My gewete probeer my vertel dat hulle seker goeie rede gehad het om so gou te gaan, iets wat ek nie van weet nie.

Iedergeval, intussen foeter ons bure se dogter neer in ʼn gat in die tuin (Casandra, ons ander hond, het onderdrukte mynersbloed, want sy tonnel in alles.) Enkelligamente af. Ongevalle toe met haar. Teen die tyd giggel ek al. “Klein bietjie wyn, klein bietjie wyn , klein bietjie wyn vir my en ook vir djou…” refrein deur my kop.

Die voordeel van alles was dat daar toe groter stukke van die, as ek dit nou maar mag sê, asemrowende koek, vir die bittereinders was. (En wêreldklas sjampanje vir my.)

Maandag

Ek maak my een oog stadig oop. Loer vir my man en hoor my kind naderkom, ons het almal oorleef. Ek sug verlig. Daar het ʼn stilte soos in ʼn NG moedergemeente, in die huis gehang. Persoonlikhede het so teen 12 uur besluit om na hulle eienaars terug te keer en almal het die dag mekaar se ruimtes gerespekteer.

Nou verstaan julle hoekom ek twee maande aan die dossier moes werk! Groete tot volgende keer.