Liefde met Verkoeling


Chemieman het vir sy 30ste verjaarsdag ʼn Nissan Patrol gekoop aka die Bostrok, wat nou amptelik ons bosbaba is. Daar is nagte om planne gestook oor hoe ons hom vir die jagtogte en kampaksies gaan inrig.

IMG_0518IMG_0513

 

Waar Chemieman sy oog so nou en dan oor my Weg laat val het, koop hy toe getrou vir ons elke maand die tydskrif en ook die Weg-ry, want 4×4 roetes word nou gefynkam en toerusting word met valkoë uitgekyk en aangeskaf.

So is die langafstand brandstoftenk al ingesit en die toetsrit deur Suikerbosrand gedoen om al die ander klein goedjies wat reggemaak moet word op te spoor. Dis juis sulke klein goedjies soos waterpype by die verkoeler en klampe by die kragstuur wat toe nou probleme gee. Dis dan nou juis ook hierdie goedjies wat my gedryf het om die storie te skryf. Want sien, my Chemieman laat my hart so warm klop, omdat hy soveel moeite doen met die avonture wat ons saam aanpak, dat ek dit toe nou goed dink om iets vir hom ook terug te doen. Ek sou die klein goedjies in my ledige tydjie regmaak.

Ek het sy blou oorpak uitgepluk, die gereedskapkas en trapleertjie nader gesleep (want ek is bietjie kort om in die monster se enjin by te kom) om die probleme te identifiseer. Gewapen met die kennis van jare saam met pa in die veld (en by die huis karre regmaak) asook die handleiding van die Patrol, het ek die kwessie van die klamp eerste aangepak. Net om agter te kom dat die ding nie met die diens vervang is nie, want nie eers die hardebaard werktuigkundige kon dit kon los kry nie! Ek het gehyg en geskel en onwelvoeglike woorde gebruik, en toe die flits vir die honderdste keer uit my mond val, onthou ek dat ek ʼn kopliggie het. Met nuutgevonde lig op die onderwerp, het ek die klamp met ʼn staal saaglem en chirurgiese hande afgesaag.

Maar die probleme het nie daar gestop nie, toe ek die pyp met ʼn plukkie wou verwyder, gly die trapleertjie en beland ek winduit, gesig eerste in die enjin! Nuuskierige buuromies het my met groot oë aangestaar maar nie een van die fossiele kom help nie. (Seker bang hul kry ʼn spanner in die speke). Maar met ghries, olie en trane in my oë het ek deurgedruk, die klamp vervang en die kragstuur meganisme gebloei, nes die boek sê. (Wou my Chemieman beïndruk). Die pyp by die verkoeler het meer kreatiewe denke gekos, maar te danke aan ons soektog na moontlike “goeters” wat kan werk, kon ek die vorige aand se mislukte poging verbeter. Ek het met ʼn bier in die hand, nes ʼn back yard mechanic, tevrede in die Bostrok gaan sit en die enjin laat opwarm om te sien of daar weer groen water uitgespoeg word en het amper begin huil van blydskap toe dit nie gebeur nie!

Ek het my Chemiemanmet kinderlike opgewondenheid ingewag,  en al het hy nie veel gesê nie, kon ek die waardering in sy oë sien en het gemaak of dit nie eers my ego gekrenk het toe hy die klampie op die verkoeler na ʼn beter posisie toe moes skuif nie. Ons het heerlik gelag oor my projek die aand en ek het agter sy rug ingekruip met die gedagte dat dit darem maar lekker is om ʼn maat te hê wat roep van die veld en avontuur verstaan, iemand by wie jou siel asemhaal.