Welkom

 

Hi daar,

Ek is Yolande en die eienaar van die blog. Baie welkom.

Nou kan julle my vra: Waarom so ‘n naam vir die gedoente gee? Wel, dis geïnspireer deur ‘n boek wat ek in Senekal, tydens my gemeenskapsdienjaar, gelees het. (Ek tel onder andere pille vir ‘n lewe ook.) Soms is die lewe vonkelwyn en soms is hy ‘n wurgpatat en soms het jy die vonkelwyn nodig om die wurgpatat af te sluk.

Wat wil ek hier sê? Mmm, laat ek sien, alles waaroor ek wonder, humoristiese stories, reise, gedigte en brokkies wat ek voel ‘n verskil kan maak in iemand se lewe. Want soos in Nuustak van destyds, het ek iets om te sê en ek gaan dit sê. Woorde is my vriende en my kwas waarmee ek beeld en klank kan gee aan dinge wat ander mense nie altyd uitgedruk kry nie, of selfs te bang is om te sê. Vandat ek ‘n baksteen hoog was kan ek onthou dat niks my meer opgewonde gemaak het as ‘n skoon vel papier en penne nie. (Wel kamp en roomys kom naby, maar ok, julle kry my punt). Daarmee kon ek wêrelde skep, indrukke vasvang en sommer net vry wees.

Miskien is daar van julle wat ook so voel en dit geniet om bietjie in die skoene van Jan Alledaags te stap en te kan vereenselwig. Die sogenaamde “hulle” sê: Leer uit ander mense se foute, wel ek was al baie keer die “ander mens”. Miskien net kan my malle woorde vir jou ‘n liggie laat aangaan.

Lekker kuier hier saam met my!

Groete