Hoe my Pot sy Deksel gekry het.


Daar was ‘n tyd wat ek my misnoeë oor die kort rakleeftyd van meeste van my vorige verhoudings uitgespreek het. Wel, ek het vir my ʼn Chemieman opgespoor, ‘n deksel vir my pot.

Dutch_oven

Laat ek julle die storie vertel. Dit het als op ʼn vervelige Sondagmiddag begin. Ek en die kandidaat se suster het die grafskof in die apteek gewerk (ons is altwee aptekers). Dit was weer daai tyd van die jaar waar jaareindfunksies hulle verskyning maak en kiepie het ʼn date gesoek, ʼn regte date. Nie een van my braai-nou-al-3-jaar-saam pelle nie. Een vir wie ek kan opdollie en as die aand goed gaan’n allemintige soen kan gee. Ek het my lot teenoor haar bekla en met ʼn vonkel in haar oog, het sy stil genoem dat  ek haar boetie miskien moet vra.

Nodeloos om te sê het ek haar gepeper met die 10-punt vraelys. Goed soos: Drink hy bier en whiskey? Hou hy van die buitelewe? Weet hy wat is die verskil tussen ʼn wielspanner en skroewedraaier en waar om die goed te gebruik? Kan hy ʼn padkaart lees? Dood normale vra soos julle weet. Die antwoorde het positief gelyk, behalwe die feit dat hy nie kan dans nie (tequila kan dit oplos) en dat hy ʼn chemiese ingenieur is. Daar het so gevaarlike prentjie in my kop opgekom van ʼn maer bleeksiel, met diklensbrille, wat heeldag in die garage plofbare proefbuise brou. Maar ek het my bedenkinge vir myself gehou. Ek het wel, tipies vrou, gevra hoe hy dan nou fisies daarna uitsien. Die antwoord was: “Lenig maar gespierd, blond met ‘n brilletjie en nie juis ʼn oliedoekskildery nie, maar ek dink julle sal baie goed oor die weg kom.” Ek besluit om die potensiële kandidaat uit te kyk en dan te besluit.

Die ontmoeting is bewimpel. Haar verjaarsdag was oppad en boetie sal nie sommer weier om oudste se geboortedag te kom vier nie en ek is toevallig ook genooi. Daar gekom was ek aangenaam verras dat die man toe nie soos ʼn witrot lyk nie en dat sy klein lenige vingertjies nogal ʼn stewige handdruk kan gee. Hy drink Windhoek en kan darem vuurmaak ook. Dit was ʼn aand vol lag en kampstories wat toe maande later tot die koop van ʼn vyfman tent (ene waar jy in die slaapgedeelte in die rondte om die matras kan hardloop) gelei het. Ek het my Chemieman dit gemaak opslaan in die tuin. Die tuin was bietjie te klein, maar enige geharde kampeerder weet jy sukkel eerder op jou eie agterstoep, as om een van daai mense te wees waarvoor ander lag en stoele nader sleep om die groentjie kampkonsert te aanskou. Die tent is in Rietvlei reservaat ingewy en groter planne is hier gebore.

Twee jaar later is ons getroud en vandag is ons ook ʼn woelige tweejarige ryker. Daar is iemand vir ons almal daar buite. Soos die gesegde lui: Elke pot het sy deksel.

Yolsie en Dolf

 

Foto1: Taste of Africa