Hoe God ‘n Moederhart Verstaan


En daar los klein Zerande (ons Zerzant) haar baba skoene agter en loop sommer sak en bal kleuterskool toe. God het ʼn plan gehad, want die min slaap van gisteraand het ma sommer moerig en glad nie huilerig gehad nie.

20150408_080409

Dit was nie hoe ek die oggend sien afloop het nie. Ek het gesien hoe ek kalm en vol grappies die ding aanpak en dan ʼn blomtuin vol snesies in my sak druk vir die damwal wat gaan breek as ons op pad skool toe is.

Maar helaas, tussen sperdatums, skonies groet en Zerzant se kollosale sak vol benodighede gaan aflaai, het die dag gister hande uitgeruk. Moet tog ook nie van die beurtkrag vergeet nie. Ek het amper ʼn load in my broek geshed.

My redding was dat ek met my AAA persoonlikheid die naweek reeds soos ʼn inventaris-generaal die goete gekoop en afgemerk het. Haar sak was gepak en kosblik het reggestaan. Sy het tot haar eie informasie lêer. Net die bal het op een of ander misterieuse wyse in haar kas afgeblaas.

So tik ek nog verwoed aan ʼn artikel teen tien uur gistraand, toe juffie besluit dat haar bed is nie meer goed genoeg nie en pappa (wat toe al sy verkoue lê en afslaap) besluit dat dit is oraait, sy mag maar by ons kom slaap. Ek het met my eie snot neus, ewe droog (of is dit nou nat?) gesê dat ek dink dis nie so skerp plan nie. Ek het reeds langer as gewoonlik gesukkel om haar aan die slaap te kry en ek het nog baie gehad om te doen. So laat ek dit maar begaan. GROOT FOUT! Nie net het sy my ribbes blou geskop nie, maar my ook oopgepluk, want sy broei mos nou warm.

Nou kyk, ek is erger as Hitler as ek koud en moeg is. So het almal sommer onder my gemor deurgeloop vanoggend. Van die bad wat vol waterpenne bekrap was (aan die kant wat nie glad is nie en Handy Andy sweet om dit af te kry) tot pa wat nie kwaai genoeg is volgens my mening nie.

Twee koppies koffie later het my persoonlikheid darem besluit om op te staan. Dit alles terwyl Zerande so perky soos silikoon boobs is.

Self die gevreesde bokstert (wat nooit langer as vyf sekondes hou nie) het my bui nie eers afgeskrik nie. In ʼn japtrap het ek die vereiste bokstert vir skool gemaak en ewe flink en ferm gedreig dat die onheil haar sal inhaal as sy dit waag om die ding uit te pluk.

Daar verbaas my tweejarige my toe nou met groot volwassenheid en wil toe sommer haar eie sak en bal dra. Die bal het by die voordeur geval en die groter-as-sy-sak het haar sommer omgetiep toe sy die ding probeer optel. My hart het in my keel gaan sit. Maar nou is nie die tyd vir trane nie. Met my skoongewaste gesig (want die maskara-Parletone –look werk nie op opgepofte 35 jarige oue oë nie) het ek steeds my blomtuin snesies gevat en die vyf minute stap skool toe aangepak.

IMG-20150408-WA0006

Die vorige paar weke se om die blok stap en skooltjie wys het afbetaal. En gister se vinnige besoek by die maatjies daar het die knoop deurgehaak. Sy het geweet waarheen ons gaan.

Die juffrou het my gewaarsku: “Die beste ding vir jou en jou kind is om te groet en gaan.” So ek het soos ʼn Black Hawk Ops pro daar ingestap en my pakkie (wat toe begin huil) afgelaai. Soos ʼn robot met ʼn sterk stem gegroet en by die hek uitgevlug.

Dis met die om die blok stap huis toe om die emosiesweet uit my oë te kry wat ek besef het, dat as God nie my chaotiese dag gister toegelaat het nie het my humeur se hitte nie die trane verdamp nie en sou ek in ʼn patetiese hopie neergesak het vanoggend. Hy weet waarlik altyd beste.

Nou kan ek met oorgawe huil al die pad werk toe…vir meer as een rede.