Groenkloof-Ekspedisie


Die plan het ontstaan, soos enige goeie plan, op die troon. Wegry in die hand, broek om die enkels het my Chemieman inspirasie gekry vir die Groenkloof ekspedisie tydens my gemeenskapsdiensjaar.

Groenkloof2010 030Groenkloof2010 013

Na sy oggendsaligheid in die kleinhuisie het ons die 4×4-roete oor koffie in die bed bekyk.

“Ek het nou verwonder…,” sê hy. “Jy is mos nou in die geweste van Clocolan, miskien moet ons vir oulaas die Oos-Vrystaat verken voor jy klaarmaak.”

“Gaaf,” sê ek. “Wa gaat ons heen?” “Ag seker nie vêr nie,” kom die antwoord.

Intussen gaan dit dol in my boonste verdieping, my hamster is besig om sy wieletjie te spin dat die rook by my ore uitkom. Dit is my pa se groot aftree verjaarsdag ook (ja, die bose vyf en sestig het om ingehaal) en ons wil die trippie sommer as ʼn verjaarsdagpresent gebruik. ʼn Naweek in die berge kan sy hart dalk net weer laat tjoklits pomp en hom laat vergeet dat die rekenaar hom nou gefire het. Die ding wat my aandag aftrek, is die feit dat vanweë die twee oumense se vurige verskil, hy vir my soos ʼn steeks tiener oor die foon laat weet het:

“Ek het vir jou ma gesê ek gaan nie meer nie.”

“Nou maar goed dan,” besluit ek.Laat ons maar sien hoe die wind more waai.

Groenkloof2010 046Groenkloof2010 150

Dis toe nou met die warboel in my wat ek die lyn na Janneman en Karen Botha van Groenkloof slaan. So verduidelik ek nie mooi vir Karen dat die bespreking vir die 17de April en nie die langnaweek is nie.Ek kry toe die antwoord dat hulle vol is en moet ek my Chemieman stert tussen die bene bel. Neewat, hy moet nou maar raad en nommer gee vir Plan B.

Dis nou hoe rondte twee toe nou begin. Ek kry ʼn ander plekkie in die hande en bel. “Daar is plek vir julle,” kom die antwoord. Opgewonde maak ek verder planne. Vier ure later lui die foon: “Skuus, maar my vennoot het reeds ʼn ander bespreking gemaak vir daardie datum.” Ai, lessie hieruit is dat’n mens moenie besprekings maak as die persoon aan die anderkant van die lyn bestuur nie.

Groenkloof2010 122Groenkloof2010 124

Soos ʼn vegvlieënier deurkruis ek Google vir Opsie C. Aha! Merimetsi Cottage duik op en ek bel. Danie, gawe man, antwoord en deel my mee dat hulle al twee jaar nie meer oop is nie. (Soveel vir webtuiste onderhoud.) “Maar bel vir Karen, sy is my vrou se neef se vrou. Hulle het Groenkloof en is op bl. 82 van die maand se Wegry.”

Om een of ander rede lui die klokkies in my kop glad nie dat ek REEDS die mense gebel het nie. Ek bel weer…Die stem aan die anderkant klink bekend maar steeds skop die ratte nie in nie. Nietemin, die keer is die kommunikasielyne oop en verstaan ons mekaar (onwetend) reg en kry ek bespreking by Nova Cottage, ʼn plekkie wat my vir baie jare nog sou dagdrome gee.

Ek laat my Chemieman kinderlik opgewonde weet dat ek vir ons plek gekry het by Groenkloof! Hy het my net stil-stil my blonde oomblik laat begaan, dierbare man wat hy is.

Groenkloof2010 147Groenkloof2010 139

Met die betaling van die bespreking bel ek die vegkamp, om te hoor of daar nou al ʼn “ry-of-bly” uitspraak gelewer is. “Nee, dis reg my kind, ons sal kom my kind, dankie my kind.”

Kordaat en paraat draai ons Bostrok se neus in Clocolan se rigting. Brêkfis in die pieknieksak, ys in die koelboks en opgewonde vertrek ons vanaf my Bosplaashuisie in Senekal.

Chemieman het met sy ingenieurspressissie vir ons ʼn lêer saamgestel van ons komende Weskus vakansie. Ons moet mos nou gaan spog met ons haarfyn beplanning. Daar is tot satelietkaarte in! Ek noem toe dat ek nie kan wag om my pa, wat al die jare die reis-ghuru was, se gesig te sien sodra hy die die lêer onder oë kry nie. Wil toe sommer net weer kyk na die mooi projek, net om agter te kom die gedoente het nie ingepak geraak nie. Chemieman moes daar en dan omdraai. (Kort duskant Marquard.)

Groenkloof2010 072Groenkloof2010 071

Die arme spietkop buite Senekal het seker gedink hy kyk langafstand Wimbeldon. So met sy volstruis-koppie-dans (op musiek wat net hy hoor) ruk hy sy kop links en regs in ons verbytog.

Ons pik die lêer toe op en voor ek inklim doen ek oudergewoonte my bloedhond snuif-snuif om die bakkie. Daar kom toe so warm remvloeistof-agtige reuk in my neusgange op en voorwaar, daar is ʼn stoompie ook. Chemieman stel ondersoek in en vind geen ooglopende fout nie. Hy het die koppelaar resevoir volgemaak en daar kon dalk bietjie gemors het. Gesus met ons bevinding, is ons weer fort na die kortstondige “kykweer”.

Groenkloof2010 062Groenkloof2010 053

In Clocolan stoom ons letterlik die vulstasie binne. Na bietjie kop-onderstebo-tyd in die enjinkap kom ons by die wortel van die probleem uit. Die hidroliese pyp wat die koppelaarvloeistof dra is kapot.

Die traak-my-nie-agtige joggies het ons na die werkswinkel van die dorp toe beduie. Tjoekies-se-Werkswinkel het toe ʼn op-en-wakker mannetjie. Hy kon ons nie help nie maar het Midas in Ladybrand gebel waar ons sal kan regkom. So stoom ons voort tot op Ladybrand.

Groenkloof2010 094Groenkloof2010 081

Tussen die geroesemoes van boere en taxi’s om ons, word  die skade geëvalueer. Ewe besadig het Chemieman die manne meegedeel dat as hulle nie eers parte in Johannesburg kan kry nie, is die kanse minder as nul om sommer net een van die rak af te haal in Ladybrand. Daar sal maar ʼn pypie gemaak moet word.

Die woord was skaars gespreek toe seil daar ʼn blonde outjie om die hoek nader. Hy is die mechanic weergawe van ʼn surfer-dude. Kompleet met blou broek wat so halfmas om sy bas hang en hy praat Afrikaans met ʼn Sotho-aksent. ʼn Kleurvolle knaap is hy beslis en hy het die regmaak proses omskep in ʼn werkswinkel weergawe van Molly-en-Wors.

Groenkloof2010 012Groenkloof2010 008

So tussen die “pyp wat jou brand dat jy lekker kry” en byvoeglike naamwoorde wat jou ma na rooipeper sal laat gryp, beskryf hy sy vervreemde pa en gee redes hoekom jy nie perdry en drink nie. Ietsie roer hier in my binneste en herinner my dat almal ʼn storie het.

Met ʼn koppie boeretroos in die hand, so tussen die werskaf deur, bekyk ons die padkaart. Ons probeer uitwerk wat is die kortste pad Groenkloof toe. Ek dam toe sommer die mannetjie by en vra hom, want hy lyk vir my soos ʼn lopende padkaart. Hy beduie vir ons ʼn grondpaadjie wat volgens hom “leke sites het as jy van berge en daai kak hou.”

Groenkloof2010 043Groenkloof2010 039

Tweehonderd bokke en seer lagspiere later vat ons die grondpaadjie. Maar so tussen die ouers laat weet ons is oppad en Karen wat weer bel om te help verduidelik mis ek die fynere detail van hoe vinnig ons moet afdraai by die Modderpoort Silo’s. Moet NIE die Marseilles-afdraai vat NIE, want as jy (soos beduie) die heeltyd net links hou, kom jy mooitjies terug in Ladybrand. (Nou wel met ʼn pragtige 25km kronkelpad deur die berge.) Boonop draai ons toe te vroeg in die dorp ook in en beland by die plaaslike sokkerspan, maar eindelik is ons op die “leke sites” pad.

Met die indraai slag by die plaas befonkfaai ons ʼn ambisieuse pofadder se plan om ʼn meerkat te vang. En daar is ons, by Nova Cottage, ʼn klein paradys in die Oos-Vrystaaste Groenkloof. Die ouerpaar se aura het toe darem ook heel groen gelyk.

Groenkloof2010 088Groenkloof2010 077

Ons parkeer langs die 1980 GTS grys golf waarmee ek, as student, soveel jare se avonture beleef het. Met ʼn knop in my keel van die heimwee, besef ek net weer dat die karretjie darem maar die Jack Russel van Volkswagen is. (Moet hom tog nooit vertel hy is nie ʼn fô-by-fô nie.) Hy het blykbaar vroeër die dag wel, met die twee oues binne, al vier wieletjies in die lug gehang.

Groenkloof2010 109Groenkloof2010 106

Pa, die patriarg, vat ons toe op ʼn toer deur die pragtige sandsteen kothuis, met uitgebreide kommentaar oor die wysheid wat die gasvrou, bo die kapstok, op die muur opgesit het: “’n Gedagte word ʼn idee, ʼn idee word ʼn plan en ʼn plan ʼn aksie.” Nogal pitkos vir die siel daai.

Daar is nie werklik formele roetes nie, jy mag ry waar jy wil solank jy net die hekke toemaak. Van die moeiliker dele is met prikkelpienk pyle en strepe gemerk.

En daar trek twee geslagte weer saam oor die Koranna berge. Met ʼn Windhoek in plaas van gemmerbier en silikoon in plaas van pik, los ons toe ook spore bo-oor die van ossewaens ,wat diep geëts lê op die kruin van die ou handelspad.Ons pak steeds klippe, bepaal die skuinste en kry ons wa oor die nek. Prentjies word nie meer met houtskool geteken nie, maar vasgelê in die geheue van die Canon kamera.

Groenkloof2010 115Groenkloof2010 111

Êrens langs die pad het almal in die voertuig iets agtergelos, sommige van ons bietjie meer as ander. (Geen sonde aan ʼn bos-opelyfie nie.) Die res van die bekommernisse is tussen Whipskie, drie sakke hout en drie verskillende vure agtergelaat. Die verlossing van daardie knellings het die babelas die volgende oggend die moeite werd gemaak.

Hier is soveel ruimte dat jy self ʼn GPS nodig het om jou sjampoe in die stort op te spoor. Pons dus gerus die stukkie hemel se koördinate in jou Garmin in en kom haal weer asem.