Feng-(Sewerage)….


Ek is ‘n groot aanhanger van Feng-Sui en skuif graag ons huis om beter energievloei te kry…maar die laaste ruk is ons en ons huis sommer net vol stront…letterlik en figuurlik. Dit blyk dat al my geskuiwery dit nou op ‘n hoop gedruk het.

72b2cb4640f0a8c40121bf8f66ae0f29

Ander mense geniet dit om so nou en dan te sit en poef praat, maar by ons het poef praat nou ‘n ernstige gesprek geword. Vandat ons by die seehuis, met sy eco-drein, ingetrek het sukkel ons met stront. Dis asof dit iets vir ons probeer sê en ons net nie luister nie. (Sort julle interne kak uit-is die boodskap wat ek kry…. In onversierde taal.)

Ek wil julle hierdie storie vertel, sodat julle kan sien hoe belangrik dit is om goed uit jou sisteem te kry, waarom die pype van kommunikasie gereeld skoongeblaas moet word om verhoudingskonstipasie te vermy (sodat julle huise se pype nie ook vir julle die les moet leer nie!)

Eers was die wegsyfernetwerk te klein en het ons gate gegrou en pype gelê dat die stront by ons ore uitkom. Daarna maak ons ‘n aparte gryswater sisteem en preek vir almal om nie soveel papier deur hulle alies te trek nie. Toe gaan dit vir ‘n ruk lank goed…die stilte voor die (stront)storm. So skuif ons twee gesinne (my ma hulle bly by ons in die garage wat nou ‘n woonstel is) mekaar se goeters en emosies rond totdat almal soortvan hulle lêplek kry.

My ma hulle bly in die liefdesblok, vir die van julle wat met Feng-Sui bekend is. En soos die van julle wat my familie redelik goed ken, sal weet, hulle liefdeskar ry maar gereeld off-road. (Die 5-gradering tipe). Uiteinde van die storie is as hulle kwaad is, is die hele huis kwaad. Ek vermoed hulle probeerslae om hulle ongelukkigheid met mekaar (soos wat mense raak wat saam tot by 70 gekom het) tot hulle ruimte te bekamp, hulle kant van die huis se pype total gekonstipeerd gekry het (van al die tandekners). Oupa en Chemieman blaas al pype met die kompressor skoon. Heel komies om te kyk hoe hulle beurte maak om op die toilet deksel te staan om die druk binne te hou. Dit bring bietjie verligting.

Die gemors is nou het die stront-opvreet frustrasie aan ons kant ook toppunt bereik, net ietwat meer aan die emosionele kant. Want soos konstipasielyers weet, as jy nie die strooi uit jou eie lyf uit kry nie, bou die toksiene op en word jy siek. Glo my ons was nou al die laaste 4 maande so siek soos wat ons nog nooit was nie.

miskruier

So gewapen met my Feng-Sui boek het ek nou die dag by die ou mense ingestorm, hulle die boek in die hand gestop en hulle vertel dat hulle moet nou oor hulle gemoedsbekakking kom, want hulle krap die energie van die huis om. (Ek het toe reeds die boek aan ons kant beet gehad.) Oupa skuif verwoed aan hulle meubels en baklei dat jy net sien pille trek daar in die 15 X 15 ouetehuis. Die druk in die pype raak al hoe meer. Ons almal mor onderlangs en lei aan wat ek noem: LOE-sindroom (loop op eiers sindroom). Niemand wil regtig sê wat hulle dink nie.

My emosionele pyp bars to sommer die naweek op Chemieman, want hy het nie soos ek ‘n woordeboek ingesluk as dit by die praat ding kom nie en ly aan kommunikasie konstipasie, terwyl ek verbale diaree het.

Ons stoei om die konstipasie-drol tussen ons uit te kry. Eindelik met groot gevloek (‘n rariteit in ons huishouding) druk ons onsself uit en praat ons vir die eerste keer oor al die minder lekker aanpassings wat ons skuif see toe teweeg gebring het. Van ouers wat minder kan ondersteun as wat ons gedink het tot die druk wat sterkwillige ouers se opinies en uitlatings op ons sit. Dan is daar nog die ouerskapdruk met twee kinders en die frustrasie van stokperdjies wat nog nie heeltemal hulle uitlating kry nie.

Die stront het gespat as mens nou eerlik wil wees. Maar dit was uit en was nou daar vir almal om na te staar. Die loodgieter het vandag gekom en met sy hoëdruk-magoedie die pype kom skoonblaas en ek en Chemieman het gister oor wyn en see besluit waar om watter lyne te trek.

Nou dat die poef grootliks uit die pad is, is dit moontlik om te sien dat die prentjie wat ons laat trek het, steeds daar is, dit gaan net (soos ander dinge wat die moeite werd is) tyd vat om te groei tot dit wat ons wil hê dit moet wees. Vir goed om te groei het hulle deeglike bemesting nodig, en glo my ons het baie bemes! Tyd om die stront vir iets goeds te gebruik.

Dis my storie vir die dag, soos my kollega Lynette se dogter sê: “Wou net bietjie kak praat met die diere!” Tot volgende keer.

Foto: Idees vol vrees