Ella gaan see toe Deel 2: ʼn Bospiekniek


“Sjoe, maar dit is mooi!” Ella kan nie haar ogies van die mooi herfsbome in die kloof af hou nie. Hulle is roesrooi, oranje-geel en pruimpers. Die riviertjie wat deur hulle kronkel is kristalhelder en sy kan nie help om gou soontoe te vlieg terwyl Viola foto’s neem en die piekniek goedjies uitpak nie. Hulle is nog so drie ure se ry van die see af.

download (1)

Kabouter is opgewonde agterna. Hulle skep vir hulle van die heerlike koue bergwater en giggel vrolik terwyl hulle rondomtalies maak tussen die blare. Trommel is op sy eie missie met sy storie en gaan neem foto’s ʼn entjie weg van hulle af.

“Van waar af kom julle?” vra ʼn sterk stem bo uit die boom uit.

“Hiertjou!” roep Ella verskrik uit en kyk op.

Hulle het so gelag dat hulle nooit die bos-elf op die tak raakgesien het nie. Hy het ʼn donkerpers stywe broek en ʼn lang mosgroen hemp aan. Hy dra ʼn boog en pylkoker oor sy skouer en sy punt ore steek deur sy lang blonde hare uit. Hy het die mooiste groen oë en fynste neus.

Rats wip hy van die tak af en land so sag soos ʼn kat by Ella Bella en Kabouter op die blare. Hy is so groot soos mens en hy ruik soos dennenaalde.

“Jy het ons lekker laat skrik,” laat Ella van haar hoor. “En groet jy nie eers voor jy net vra vrae nie?” raas Ella terwyl sy voor sy gesig fladder en hom astrant op sy neus met haar vinger tik.

“Ons kom van..,” begin Kabouter, heeltemal in vervoering met die mooi wese.

“Sjuut Kabouter! Jy ken die elf van geen kant af nie. Jy kan nie net vir hom persoonlike goed sê en dan is hy dalk ʼn booswig wat ons wil seermaak nie,” val Ella haar woes in die rede.

“O, skuus Ella, maar hy lyk so vriendelik!” antwoord Kabouter kop onderstebo. Sy kan nie help om skelmpies vir die elf te loer en vir hom te waai nie.

Ella gluur haar kwaai aan. Die elf het doodstil bly staan en hardop begin lag.

“Oe , maar jy is kwaai hoor!” proes hy dit uit. “Maar jy is reg, ek was ongeskik. Kom ons begin weer. Hallo, my naam is Erthor, oppasser van hierdie woud. Wie is julle en waar kom julle vandaan?”

“Erthor, dis ʼn mooi naam! My naam is Kabouter en sy is Ella Bella,” sê Kabouter nog voor Ella kan keer. “Ons kom van die stad Boksiesberg af en is op pad see toe.”

Ella het haar mond oopgemaak om iets te sê maar hom weer toe geklap toe sy ʼn beweging agter Erthor sien. ʼn Groot kop met krulhorings het oor sy skouer geloer. Dit was ʼn reuse koedoebul. Sy het hom nie eers hoor aankom nie.

“Hy sal julle geen skade aandoen nie,” praat die koedoe met ʼn diep rustige stem. Sy naam beteken Vereniger en hy is hier om die vrede te bewaar, wanneer hy nie sit en dagdroom nie.”

“Uhm, hierdie is Tandala, my koedoe, wat so uit sy beurt uit praat,” verduidelik Erthor ongemaklik.

Kabouter is so opgewonde, sy was nog nooit so naby ʼn koedoe nie wat nog te sê van ʼn elf!

140b94dd99c382866c03cb966dfdffb0

“So jy is ʼn mensekind wat ons kan hoor,” sê Tandala vir Kabouter en staan bietjie nader aan haar. “Jy moet baie spesiaal wees om so gawe te mag gekry het.”

Hy kan sommer sien dat hierdie klein dogtertjie suiwere onskuld is. Dit lê vlak in haar ogies en hy is seker sy brand om aan hom te vat. Daarom laat  hy sy kop stadig sak tot by haar en druk sy neus teen haar hand. Kabouter se neusie kreukel sommer van blyheid en sy vryf sag oor sy neus en ore.

“My mamma het gesê ek is ja. Jy is darem vreeslik mooi!”

“O hier is julle!” Trommel is skoon uitasem toe hy by hulle aankom. “Grote Griet! Wie is hierdie?” Hy sien nou eers die elf en die koedoe en kyk hulle met groot oë aan.

“Dit is Erthor en Tandala!” verduidelik Kabouter opgewonde vir Trommel en sy giggel. “Erthor pas die bos op en het vir Ella baie groot laat skrik.”

“En hierdie is Trommel, Ella Bella se huishou-muis en hy maak die lekkertse kos. Hulle bly in ʼn groot eikeboom in ons tuin waar Ella Bella die Towertuin oppas,” rammel Kabouter alles in een asem af. “Sy is amper soos jy, uhm, net kleiner.

“Ek het nie geskrik nie, uh, dit was net onverwags,” sê Ella Bella onvergenoeg. Maar sy is darem al minder kwaad en tog te nuuskierig om meer van Erthor en Tandala te weet.”

“Om op te maak dat ek julle so groot laat skrik het, sal ek julle vir ʼn draai deur die bos vat, wat sê julle?” stel Erthor voor.

“Ja, ja!” roep Kabouter en Trommel gelyktydig uit. Hulle kyk afwagtend na Ella Bella.

“Nou goed dan, maar ons kan nie lank draai nie, ons gaan amper weer ry,” gee Ella Bella toe. Sy moet erken sy is baie opgewonde oor die rit. Dalk kan sy van die mooi blare vir haar plakboek pluk.

“Miskien kan ons paar lekker bosbessies vir padkos raakloop,” dink Trommel hardop.

Erthor laai toe net daar vir Kabouter en Trommel op Tandala se rug, voor hy self opklim. Ella het Tandala se horings uitgeklouter sodat sy so vêr as moontlik kan sien, en sommer blare ook kan bykom. So het daar nog nuwe vriende vir die drie maatjies bygekom en het hulle ʼn heerlike rit deur die bos gehad, waar Erthor vir hulle verskillende plante en ander wouddiertjies gewys het.

The colours of Autumn surround  the Asian bridge in The Gareden House, Buckland Minachorum, in Devon Pic by Al Stewart     07866255485 Irving of Exeter Nick Irving                    07831182833

Erthor het in die mooiste handskrif sy adres vir Ella Bella in haar dagboek neergeskryf en belowe om in kontak te bly.

Viola het gewonder hoekom blink Kabouter se ogies so toe hulle eindelik weer op pad is. Sy sal maar vanaand met slaaptyd al die stories hoor. Nou moet hulle eers die laaste skof aanpak.

Hulle is nie meer vêr nie. Kom lees weer saam wat gebeur as hulle die see sien.

Fotos:
1.Pinterest
2. Kudu
3.The colours of Autumn surround the Asian bridge in The Gareden House, Buckland Minachorum, in Devon
Pic by Al Stewart 07866255485
Irving of Exeter
Nick Irving 07831182833