Die Tapisserie van My Lewe


Elkeen van ons weef daagliks aan ons lewensprent, jou tapisserie. Die prent wat vorm, word deur die keuse van elke draad bepaal, en die keuse van elke draad op sy beurt weer, deur lewensbesluite en inspirasie.

download

Met die verloop van tyd het die lewe (onder leiding van ʼn Groter Hand) vir my mense oor my pad gestuur, wat as ek bereid sou wees om stil te word en op te let, vir my kosbare drade sou gee. Drade van inspirasie.

Soms was dit deur hegte vriendskappe, soms deur die lees van ʼn boek en soms deur die kritiek van die wat nie eers bewus was van die invloed wat hulle op my lewe gehad het nie. Baie keer was dit wanneer ek bereid was om uit my kokon te klim en my doelbewus bloot te stel aan iets nuut. Dit is partykeer nodig om die nuwe eienskappe soos ʼn akteur aan te pak. Speel die rol totdat jy die rol word.

Een van my gunsteling sêgoed is: “Hoe kan jy verwag om anders te dink as jy nie eers bereid is om jou haarstyl te verander nie?” (Dit sal vir baie van my naby vriende my verkleurmannetjie haarstyle beter verduidelik…)

Inspirasie het nie altyd ʼn motiveringspreker-titel nie, ook nie hooggeplaasdheid nie. Dit is meestal alledaags en ongesien. Dit is die determinasie, van jou tweejarige, om steeds haar hond te stap, al het sy nounet al haar velle op die teerpad verloor, toe die gediertetjie haar in die weghol omgepluk het. Of dit kan ʼn moedertjie wees, wat jy in die koffiekroeg dophou. Jy kan sien hoe hunker sy na ʼn lekker luukse koppie koffie, maar sy bestel die melkskommel, sodat boeta ook kan saamdrink want daar is nie geldjie vir albei nie. Haar onbaatsugtige liefde maak my stom.

Vir ons almal is dit anders maar op ʼn mistieke manier tog dieselfde. Ek noem hierdie mense deel van my lewenskrediete, wat aan die einde van my fliek gaan wys, en die drade in my tapisserie wat my unieke prent gaan klaar maak.

Die mense in myne beïnvloed ook verskillende kategorieë: Onvoorwaardelike liefde, Deursettingsvermoë, Onopgesmuktheid, Elegansie en Sofistikasie, Spiritualiteit en Insig, Waagmoed, Integriteit ens. Elkeen het op sy tyd en plek gekom, in ʼn deel van my lewe waar ek hand opgesteek het vir hulp, bewustelik of onbewustelik. Ek kan julle hier noem, maar ek loop die risiko om iemand uit te laat wat ʼn sleutelrolspeler was en ek nog te blind is om dit agter te kom. In die stilte van die oggendure het ek aan my lys van mense gedink. Veral die sterk vroue en ek het vir julle elkeen dankie gesê voor my Skepper, en ek weet julle sal baie geseën wees.

Miskien is dit hoekom my kop vandag ook soos ʼn wewer en draaiboekskrywer s’n werk. Ek bepaal gedurig die teks, bui en agtergrond van elke scene van my lewe, want netnou dalk beïnvloed ek ook ander mense se lewe so intens soos wat hulle myne doen. Dan is die vraag, hoe voel ruik en lyk daardie indruk?

Kies vandag wys en met ʼn doel aan die drade van jou tapisserie en sien die inspirasie onder jou neus.

Foto: The Mirrix Blog