Die lewe van ‘n kampusdosent


Op die oomblik is my lewe as kampusdosent baie dieselfde as die van ‘n soldaat in die Midde-Ooste. Daar word (verbale) missiele vermy, bomme val by wyse van spreuke (en soms regtig) om jou. Die pad werk toe is ‘n Highway to the Danger Zone

stem_scholar_2

Ek het op Wits my inlywing in kampus proteste gehad, waar jy leer navigeer deur geboue wat toegesluit word, jy begroet word met privaat sekuriteit as jy by die huisbak kom en ontsnap deur nooduitgange soos ‘n spesiale taakmag ou. So teen die tyd wat ek by Rhodes begin het, was ek so te sê protes fiks.

Jy gaan na jou lesings toe met oë soos ‘n valk en met supersoniese gehoor. Jy leer jou studente se gesigte ken sodat jy dadelik kan sien as daar vreemde student in jou klas sit. Jy tel jou woorde, want als wat jy sê kan en sal moontlik teen jou gebruik word. Partymaal word jou stilswye as medepligtig gesien saam met die wie die studente teen protesteer.

Nou weet ek wat is die vraag in julle almal se koppe. Hoekom bly julle/jy daar werk? Almal weet werk is skaars en kosbaar, so ja dit is ‘n faktor, maar nie die enigste een nie. Wat het my in die kar laat klim, my gesin by die huis agtergelaat en die oorlogspad kom ry?

Daardie diepgesettelde wortel wat sê: Kennis is Mag. Kennis en opvoeding gee jou die leisels en mag om jou toekoms te stuur na beter plekke en solank as wat daar nog studente is wat streef daarna om hulle self en omstandighede te verbeter, is dit my verantwoordelikheid om my deel en rol te speel in hulle proses.

Jy sien die mismoedigheid in die finalejaars se gesigte wat 6 weke weg is van ‘n toekoms vol geleenthede, nie net hier nie maar ook op oorsese platforms. Hulle wil klaarmaak, hulle is bekommerd dat hulle nie eksamens geskryf gaan kry nie. Hulle het beursverpligtinge ens. Ek het al met mede dosente gepraat wat stories vertel hoe hulle skelm in die kelders van universiteite vir studente klasgee, want die studente het hulle kom smeek om dit te doen. Nie almal wil alles ontwrig en brand om oplossings te kry nie.

Dat daar oplossing moet kom is duidelik, maar ek sal nooit staan vir die afbreek van die eintste fasiliteite wat juis die opvoeding, wat demand word, verskaf nie.

As ek die verskil in net een mens se lewe kan maak, dan is ek besig om my werk reg te doen. En op die oomblik is my werk in die gevegsfront. Kampusdosente is baie keer die stil bastion (uit die medialens) in die onstuimigheid, iemand wat met kalmte kan beïnvloed.  Miskien is hierdie ons vooraand om soos ‘n Pierre Dulaine die jong mense ast ware te leer dans  en nie toi- toi te midde van hulle worstelinge nie.

Groete uit die loopgraf.

Foto: The STEM scholar