Die Krag van een Knoppie


Met die druk van ʼn knoppie het een klein swart vroutjie vier bane se jagende verkeer vandag gestop, sodat sy veilig die pad kon oorsteek toe die lig vir ons rooi word. Dit het my weer laat besef hoe magtig daai moedbelaaide besluit is om die knoppie te druk.

images (14)

Hoeveel van julle voel ook soos ek, bang om die knoppie te druk? Want wie gaan tog luister, vir wie gaan dit tog saak maak? Gaan dit vir altyd net ʼn gedagte bly om oor te stap en jou bure se deurklokkie te druk, om vir ʼn slag te hoor hoe dit gaan, of die bel knoppie op jou foon om met ʼn geliefde wat vêr bly (of vir wie jy kwaad is) te praat? Wat nog te sê die knoppie druk om jou gedagtes te deel op ʼn forum wat die wêreld elke dag sien. Want netnou blaas dit in jou gesig op, of is jy teleurgesteld of my grootste vrees, is jy dalk nie belangrik of goed genoeg om regtig ʼn impak te maak nie.

Mense raak gefrustreerd as hulle vriende hulle deel maak van ʼn broadcast lys op Whatsapp om vir jou ʼn boodskappie van inspirasie elke dag te stuur, maar dit gaan vir hulle verlore dat jy persoonlik aan hulle gedink het, die woorde gaan uitsnuffel het en dit net te veel tyd vat om dit oor en oor te stuur. Jy is ʼn uitverkorene op daai persoon se lysie. Iemand in hulle gedagtes. Vir hulle tel jy. Al het hy/sy 300 Facebook kennisse is jy deel van daardie persoon se handvol hartsmense. Wat maak dit saak as die boodskap middernag by jou uitkom, as jy in ʼn ander tydsone bly? Sit Whatsapp se klank af as dit jou wakker maak en lees dit op ʼn meer gerieflike tyd, maar moenie net aanneem die versender van die boodskap het jou onpersoonlik ingeteken op iets wat jy nie in belangstel nie en met die druk van ʼn knoppie ʼn wond los wat ʼn kloof ruk in die vriendskap nie.

Vandag kan ek sê dat om die knoppie te druk deur en deur die moeite werd is. Jy weet nooit wanneer bereik jy daardie een persoon wat op die punt staan om op te gee, of vir wie jou idee net die antwoord is nie. Elkeen van ons het die wonderlike talent om die lig vir iemand anders aan te sit. So skryf jou stukkie, deel jou prentjie, bel ou knorpot of druk die enter knoppie om daai reis te bepreek, want die elektrisiteit wat jy deur jou vinger stuur kan nie eers Eskom afsit nie.

Ek het knoppies begin druk en staan steeds verstom oor die wêrelde wat dit vir my oopmaak en die vreugde wat dit gee om iemand te hoor sê: “Dis net wat ek nodig gehad het.”

Knoppie