Die Insouting van die Oos-Kaap


Sout, die preserveermiddel van die lewe. Hy kan maar bra brak wees hoor, maar sonder hom is die lewe smakeloos.

21989198-salt

Laas toe ek met julle gepraat het, was die planne aan die rol om ‘n moerse lewenskuif te maak. Nou ja, dis is nou al 6 maande vandat ons met ons bubble wrap trek in die land van melk-en-heuning aangekom het. Of sal ons dit wind-en-see noem.   Die Oos-Kaap is pragtig, die gras welig (die bosluise weliger!) en die lug sout soos die mense van die kontrei.

Jip, hier is baie Souties en my Brits kry goeie oefening, maar hulle is ook sout van die aarde mense. Soos oom Mike Jepp, by wie ek grond huur om my twee perde aan te hou. (Ek het wragtig nou tyd om elke dag by hulle te wees!) Hy boer met pynappels, en baie van hulle ook, hy kon opstêrs wou wees as hy wil, maar hy is nie. Met sy laphoed, plaastrui met gate en ou bakkie, stop hy altyd vir ‘n geselsie met oë wat blink soos ‘n tienerseun met ‘n bikini uitsig op die strand. Al het hy ‘n kind al aan die dood afgestaan.

Chemieman en die Wildevy by die huis, praat besigheid met mekaar terwyl die gemurmel van die see die planne sekondeer. Ek ry 60km Grahamstad toe en terug op die kruin van pynappel en wild belaaide koppe. Die grootste verkeerskatarsis is wanneer die viervoet melkmasjiene besluit hulle stap nou oor die pad. (Die in Bathurst kyk so ewe links en regs…)

Maar waar daar heuning is, is daar bye en waar daar bye is, is daar angels ook. Maar gelukkig is ons so taai soos ratels…. Ons het immers swart belt in Gautening..

My boep het doer gestaan toe ons met die trek hier aankom en ‘n maand by my nuwe werk toe wil boetie nie meer die skommelpad ry nie en het my kraamverlof begin. Nie dat hy toe al kom nie, nee daarvoor het hy sy tyd gevat- tot op 42 weke!

‘n Week voor hy moes begin dink om te verskyn, breek my ma haar heup… Sy beland in dieselfde hospital waar ek toe ook gekraam het. My pa (op sy dae bekend as ‘n bliksem van ‘n man) verkrummel soos ‘n Flake onder die angs en druk van die groot operasie. Die susters verduidelik elke keer vir my, as ek haar gaan besoek, dat die kraamsaal een vloer op is. Chemieman stuur die skip van van die huis af werk en kleuter onder jou voete hê, met bewende hande. Ons is ‘n sirkustoertjie van vlieënde balle wat wag om te val.

Ons bly in Port Alfred 150km van Port Elizabeth af, ons gaan nie sommer net in 5 minute by die hospitaal kan wees as ons moet nie. Dit kos beplanning- met beplanning vir die beplanning. Ingrid, ons vroedvrou, gee tot vir Chemieman lesse oor wat om te doen as ons langs die pad kraam.

My ma se tenger 69 jarige lyf oorleef die operasie, met ‘n pen byna so dik soos haar been in haar femur.

‘n Week later is Ouma op en beweeg maar boeta is nog nie daar nie. Ons begin fokus op die kraam, my water gaan gebreek moet word. Ek en Chemieman is reg vir die ding. Ek gaan normaal kraam na ‘n keiser. Nogal ‘n kontraversiële storie nog in Suid-Afrika. 8 ure, pethidine, twee bottels lag gas en ‘n dokter wat ek beskuie het met die gedruk, is Rudan se hele 3.8kg daar.

Die ergste is oor. So het ons gedink. My ma moet terug vir haar opvolg besoek. Ons is gerat, doeksakke en al, maar sy kan nie beweeg nie. Ek bel weer die ambulans, plaaslike x-strale toe. Die been het pen en al gekraak. Bedrus is al raad, hulle kan niks anders doen.

Oornag het ek twee babas. Een 69 jaar oud en die ander pasgebore. Ek ruil doeke vir hulle, sien hoe ‘n eens trotse vrou die bitter pil van vernedering sluk omdat sy haarself nie kan help nie en staan sterk soos die boere tannies van ouds, al wil ek braak van die sout. (My pa moet liewer nie doeke ruil nie…hy word groen en ek dink opgooi is ‘n spansport. Beter dat ons net een blerts skoonmaak.) My ouers word weer kinders voor my oë en ek besef die laer trek kon nie gou genoeg gebeur het nie.

Maar ek weet nie wie ek waar afgewater het nie (seker die klomp jaloerse pelle oor ons by die see bly), want die soutsakke word toe nou nie minder nie! My oudste kind, Zerzant soos ons haar noem, kry bosluiskoors….toe my pa….toe ek….toe my ma. Ons druk deur. My wange is al uitgedor van die brak. Ek kom op vir lug en daar gaat ons weer virale infeksie vir sussa gevolg deur griep vir ons almal.

My vier maande kraamverlof voel soos die ongevalle eenheid van Baragwaneth hospital. Gelukkig was daar nie tyd vir seks nie, want netnou het ons per ongeluk weer swanger geraak!

Volgende hekkie is om Zerzant by die speelgroepie te kry, ‘n proses op sy eie. Dank die hemele dit gaan toe nie gepaard totale histerie nie en boeta is ‘n engelkind wat met sy vet gelukkige lyfie net deur alles lag.

Laasweek het ek weer begin werk. Soos ek hier sit wil ek nou salie brand en sout om die huis strooi, want julle sal dit nie glo nie, almal is weer siek… Dankie tog vir wyn! Maar ek sal al die drama nie ruil vir 5 minute van die land van roet en jaag nie.

Ek sou reken dat ons nou soos in die ou dae ingesout is. Vrot word gaan ons beslis nie! Baie dankie Oos-Kaap vir die ontgroening, ons is nou waarlik deel van jou!

Foto: http://www.123rf.com/photo_6292621_canvas-bags-with-salt-on-white-background.html