Die Avonture van Ella Bella: ‘n Belangrike Besoek


Kabouter se mamma stap ingedagte na Ella Bella se boomhuis. Sy het ʼn belangrike besoek om by haar af te lê vanaand. ʼn Besoek wat Kabouter se lewe baie gaan verander.

Dis volmaan en die hele tuin lyk betowerend. Oral ruik jy Jasmyn en Roosmalva en dit vat haar gedagtes terug na toe sy die eerste keer vertel was dat al die geure van die plante, hulle manier van praat is. Die gedagtes laat haar vingers vroetel met die klein rooskwarts klippie in haar japon se sak.

download (5)

Ella Bella se boomhuis is binne ʼn pragtige groot ou eikeboom. Haar slaapkamer kyk uit oor die hele tuin en op haar stoepie is daar ʼn hangmat. Oral is daar die mooiste feetjieliggies. Vanaand is dit rustig in die huisie. Na die lang dag van vloed opdroog is sy pootuit.

Dis so mooi aand dat sy besluit om aandete sommer op die stoep te eet.

“Daar’s hy, heerlike kersietamatie en komkommerslaai, vars uit die tuin vir ons,” sê Trommel terwyl hy die akkerbakkies trots voor sy tafelgaste neersit. Hy is ʼn mollige bruin muis wat vir Ella Bella huis hou en kook. Sy ry ook graag op sy rug as hulle deur die tuin stap.

fairy-house-01-hammock-detail-250

“Dit lyk sommer baie lekker!” sê Ella terwyl sy ʼn vurkvol in haar mond prop. Die sop spat skoon soos sy die tamatie stukkend byt. Sy is wolfhonger.

“Ai Ellatjie, wanneer gaan jy eendag tafelmaniere leer. En bid jy dan nou glad nie vanaand nie?” sug Trommel moedeloos. Daar is net geen salf te smeer aan haar nie. Hy gaan sit netjies by die tafel, vou sy kolletjies lapservet met sorg oop op sy skoot en sê sy dankie-sê gebedjie saggies op.

images (7)

“Jithlaaik Trommel, jy het nou weer bobaath koth gemaak. Jy ith my guntheling kok in die hele wêreld!” lispel Stekels so tussen die mondevol deur.

“Wat het jy noú weer op jou rug Stekels?” vra Trommel terwyl hy sy kop skud.

“Hy het seker weer in die bessiebos ingeklim,” laat Ella droog weet en sy vat nog ʼn groot hap. “Sê bietjie ‘bessiebos’ Spikkels,” en sy verstik amper soos sy lag net om daaraan te dink.

“Thieth Ella Bella, jy weet ek kan nie tho baie ethhe tthe nie.” Spikkels is ʼn krimpvarkie wat Ella groot gemaak het nadat ʼn trok oor sy mamma en pappa gery het. Hy het ʼn vreeslike klein hartjie en kan verskriklik kwaad raak as Ella Bella hom so spot oor sy lispel.

download (1)

Sy hele ruggie is vol braambessies wat aan sy stekels vassit. Hy is mal oor bessies en het so lekker geëet dat hy nie agtergekom het sy ruggie skuur teen ander bessies nie.

“Jy kan my lopende nagereg tafel wees,” lag Ella en sy gryp ʼn bessie van sy rug af. Net toe is daar ʼn helder blou lig om hulle. Dit is verseker nie Lampies, die vuurvliegie, se stert wat weer geblaas het nie. Hier is iets anders aan die gang.

“Hallo Ella Bella,” praat ʼn stem skielik hier by haar. Sy val sommer reg agteroor van haar paddastoel af. Haar glasie nektar is een groot plas op die tafel.

images (4)

“Vvviola?” stotter Ella Bella.

Oomblikke gelede het Viola, kabouter se mamma, die rooskwartsklippie in die spesiale gaatjie in die boom gedruk en die rympie: “Klippie, klippie, fyn en rein, maak my lyfie ook weer klein” gesê. Net soos toe sy ʼn klein dogtertjie was. En daar staan sy nou op Ella Bella se stoep.

download (3)

Vanaand, ʼn week voor Kabouter se tweede verjaarsdag , het die tyd aangebreek waar sy die klippie moet kom teruggee. Sy wonder of lyk die onderwêreld by die grondbouters en molle nog so mooi soos die laaste keer wat sy saam met Ella Bella se mamma , Annabel, by die onderste deur van die boomhuis uit was.

“Kan jy dan nie klop nie? Jy gaan my hart gaan laat staan!” roep Ella verontwaardig uit. “Ek het, maar jy was weer so vol streke dat jy my nie gehoor het nie,” kom die antwoord.

download (2)

“Moenie so verbaas lyk nie, jy weet hoekom ek hier is.”

“Uhm, seker ja,” en sy skuif ongemaklik rond op haar paddastoel. Sy is nie seker hoe sy oor hierdie taak voel wat sy nou moet aanpak nie. Sy moes dit seker gister, met die ontmoeting, al sien kom het. Nou het sy geen uitkomkans meer nie.

Julle sien, die rooskwartsklippie is ʼn towerklippie wat Ella Bella se mamma, Annabel, vir Viola gegee het toe sy twee jaar oud geword het. Flippie vuurhoutjie het haar aan Annabel voorgestel.  Met hierdie klippie kon sy net so klein soos die feetjies word en dan het sy en Flippie vuurhoutjie groot avonture in die towertuin gehad. Wanneer dit tyd was om huis toe te gaan het sy net weer: “Klippie, Klippie in my hand, vat my terug na die menseland” gesê en drie keer in die rondte gedraai, dan was sy weer ʼn haar groter self.

images (1)

Solank as wat sy die klippie gehad het kon sy die feetjies, kabouters, elwe en ander diertjies hoor praat. Maar vandag kom sy dit teruggee, want sy en Ella Bella het ʼn belofte gemaak dat as sy wat Viola is, eendag kindertjies sou hê, hulle die klippie mag kry sodra hulle twee jaar oud word.

Dan mag hulle deel word van die towerwêreld waar enige iets moontlik is. ʼn Plek waar die mensewêreld se seer nie kan kom raak nie.

“Jy het belowe Ella Bella, en dit is nou amper tyd,” het Viola saggies gesê en die klippie voor haar neergesit. Ella het dit opgetel en haar blaarsakkie gebêre. Toe sy opkyk was haar ogies vol trane. “Maar ek wil nie hê jy moet nie kan terugkom nie,” het sy gesnik.

1604390-bigthumbnail

“Toemaar, toemaar“ het Viola getroos. Ek belowe jou jy sal altyd in my hart wees en wie weet miskien sien ons mekaar weer. Jy en Kabouter gaan net sulke groot vriende word soos wat ek en jou mamma was.”

“Maar ek weet nie eers wat om vir haar te sê nie,” het die antwoord bewerig gekom.

“Jy sal weet,” het Viola haar gerus gestel. “Kom ons eet nou lekker en drink vir oulaas van daai heerlike kakao van jou en dan gaan slaap jy soet.”

Deur die hele gesprek het Trommel en Stekels tjoepstil en met groot oë gesit.

“Toe, toe julle twee! Moenie net verskrik daar sit nie, bring vir ons blomme vol kakoa,” het Viola die twee aangespreek.

Baie later daardie aand het Viola met natgehuilde wange, maar ʼn blydskap in haar hart agter Kabouter se pa se rug in gekruip. Haar dogter se groot avontuur gaan amper begin en sy wat Viola is, sal haar al die stories van haar eie avontuur vertel.

Maar vir nou eers gaan ons slaap en partytjie beplan.

Foto’s: Pinterest; Pinterest;Pinterest; AliExpress; Etsy; Efteling Park;Pinterest;Pinterest