Die avonture van Ella Bella: Ella gaan see toe. Deel 3: Uiteindelik daar.


“Julle skuld my roomys!” skree Trommel opgewonde. “Ek het tog die see eerste gesien, wêla kapêla!”

“Issie, jy het verneuk,” laat Ella suur hoor. “Jy het my hare in my oë getrap toe jy op my kop gespring het om beter te kan sien,en toe kan ek niks sien nie!”

“Hoekom mag ons nie almal saam roomys koop en eet nie, dan baklei ons nie?” vra Kabouter versigtig.

11380181_877382988997579_1982948078_n

“Want dis nie hoe die speletjie werk nie!” antwoord Trommel en Ella gelyk.

“O wel, ek gaan in elkgeval roomys eet, my ouma het belowe sy het vir my gemaak,” antwoord Kabouter droogweg.

Dit is hoe daar in Port Blouwater aangekom word. Viola proes lekker vir die gestoei op die agterste sitplek. Sy en haar man speel nog elke keer ook dieselfde speletjie. Vandag het hy gewen. Sy het die see gemis toe sy kyk watse kabaal op die agterste sitplek opgeskop word.

Kabouter is so opgewonde om haar ouma’s en oupa’s te sien en natuurlik om vir Koos en Faan te ontmoet. Haar mamma het haar alles oor die twee klein hondjies van ouma Sproeitjies en oupa Bosbaard vertel. Sy kan nie wag om met hulle te gesels nie. Tienkerbout is tannie Ousus se klein Yorkie en ken al vir Kabouter, maar toe kon sy nog nie verstaan wat Tienkerbout vir haar sê nie. Ouma Lograsie en oupa Toontjie bly saam met Tienkerbout en tannie Ousus.

Sy, haar mamma en pappa gaan die vakansie by ouma Sproeitjies en oupa Bosbaard bly, maar hulle gaan by tannie Ousus hulle ook gaan kuier. Daar is heerlike bed gemaak vir hulle bo op die balkonkamer, waarvandaan hulle elke oggend die see kan sien as hulle wakker word, en lekker braaivleis kan hou in die klein braaiertjie wat oupa Tjoeke-paf noem omdat hy ʼn soos ʼn klein lokomotiefie lyk.

IMG_2131

Viola weet watse warboel dit gaan wees as hulle stop. Daar gaan vinnig afgelaai word, die balkontrap opgestorm word (om die see te sien) en dan voete natgemaak word in die see. En dis presies hoe dit gebeur.

Dis ʼn vrolike oor en weer gegroetery toe hulle voor die seehuis stop en ʼn halfuur later is almal vort in oupa Bosbaard se see Golfie. Oupa Bosbaard glimlag skelmpies vir Viola, want hy het vir Ella Bella en Trommel gesien. Hy is immers die een wat vir Flippie Vuurthoutjie aan Viola bekend gestel het en weet hoe die towerklippie nou oorgedra geword het. Dit was eens op ʼn tyd syne gewees…

Ella Bella het haar rooi blou en wit strepies baaibroek aan met ʼn trui bo-oor. Haar hele neus is spierwit van die sonroom gesmeer. Rooikoppe brand mos maar altyd meer. Sy weet dit is nie meer somer nie, maar miskien het sy tog die moed om die water in te hardloop. Trommel het maar sy swemvlerkies saamgebring, net vir ingeval.

“Oe Trommel! Ruik net hoe lekker ruik die see en voel hoe sag is die sand tussen ons tone! Dit is die beste vakansie ooit!” Ella lag sommer diep uit haar magie en Kabouter skater saam toe hulle oor die sand na die branders toe hardloop.

beach

Die see is potblou en die breekwater se klippe blink in die son. In die branders dryf daar ʼn paar branderplankryers en oral hardloop daar honde, wat saam met hulle eienaars speel, rond. Oupa het gesê hulle mag die volgende oggend vir Koos en Faan saambring. Kabouter is sommer baie bly daaroor.

“Kyk bietjie of jy slakkies sien Kabouter,” roep haar pappa vrolik agterna toe die klompie verby storm.

“Hier is een , hier is een!” kom dit jillend van Kabouter af. Sy gaan sit op haar hurke en kyk hoe die seeslakkie met sy mooi horingskulp oor die nat sand seil. “ Hallo,” groet sy vriendelik en tel die slakkie aan sy skulp op. Die arme outjie skrik so groot dat hy sommer woeps in sy skulp kruip.

Teen die tyd het Ella Bella en Trommel ook nader gestaan. Ella klop aan sy skulp en roep by die gaatjie in. “Joe-hoe, kom sê bietjie hallo jong! Ons gaan jou nie seermaak nie.”

ʼn Lang plat slymerige voet kom stadig uit en dan hoor hulle ʼn bewerige stemmetjie: “Uhm, hallo daar. Wie is julle?”

“Ek is Ella Bella en dis my vriende Trommel en Kabouter. Ons hou bietjie vakansie by die see.”

images (13)

“Maar sy is dan ʼn mens, hoe kan sy my dan hoor?” vra arme slakkie verward.

“Ons het vir haar ʼn towerklippie en feetjie poeier gegee wat maak dat sy jou kan hoor. Sy is baie gaaf en jy hoef nie bang te wees nie,” antwoord Trommel.

“Wat is jou naam?” vra Kabouter. “Orkin,” kom die antwoord.

“Aangename kennis Orkin,” antwoord die drietjies in ʼn koor, terwyl Kabouter hom weer versigtig neersit. “Ons gaan jou nie verder pla nie, ons sal môre weer kom groet en al jou seestories kom luister, jammer ons het jou laat skrik,” groet Ella vriendelik.

“Oukei, ek sal nie dan weer so groot skrik nie! Tata vir eers,” groet Orkin terug.

Die klomp het omtrent die strand geniet. En toe die son sy kop begin wegsteek agter die horison, het hulle huis toe gegaan en gesmul aan roomys en warm sjokolade, om die balkontafel, wat ouma Sproeitjies vir hulle gemaak het. Kabouter het onophoudelik gebabbel soos sy vir oupa en ouma alles van hulle reis tot by die see vertel het.

Daardie aand het almal met bly harte gaan slaap met die gedruis van die see in hulle ore. Vir die volgende 10 dae gaan hulle nog baie avonture hê. Ons sal julle alles daarvan vertel, nou is dit eers slaaptyd.

RoomySee Honde Seeslak