Die Avonture van Ella Bella: Ella gaan see toe Deel 1.


Ella draai  in haar snoesige bedjie om en kruip nog dieper onder die komberse in.

“Dis darem maar lekker om nog te kan bietjie laat slaap vandag,” dink sy dromerig. Sy en Kabouter het gister soveel pret saam met die grondbouters en Gawie die mol gehad. Sy lag sommer weer stilletjies oor al die poetse wat hulle die klomp gebak het.

images (6)

Klop. Klop. Klop.

“Gaan weg ek slaap nog,” laat Ella Bella uit die bed hoor.

“Nee maar goed, moet net nie op my kom skree as jy agterbly nie,” antwoord Trommel droogweg en stap weg kombuis toe om warm sjokolade te gaan maak. Hy het klaar gepak. Hy en Ella Bella gaan saam met Kabouter en haar familie see toe. Hulle gaan sommer vroeg-vroeg ry. Hoe Ella betyds gaan wees weet hy nie, want sy het nog nie klaar gepak nie en lê boonop nog en droom in die bed.

“Agterbly, hoekom sal ek nou agterbly?” wonder Ella en dan tref dit haar soos ʼn beker yswater. Sy gaan see toe!

“O aardetjie tog! Ek het nog nie klaar gepak nie en kyk net hoe laat is dit al!” praat sy kliphard met haarself terwyl sy vervaard regop kom. Jy sien net komberse trek. Haar hare staan soos spookasem om haar kop, maar daar is nie nou tyd om daaroor te bekommer nie.

Oral in die kamer staan die klere wat sy wil inpak nog in hopies. Sy moes nog klaar besluit wat gaan saam en wat bly agter, maar sy kon nie besluit nie en het gedink sy sal daaroor slaap en vroeg opstaan en verder pak.

“Trommel!! Kom help!” gil Ella Bella benoud uit die kamer so tussen die tandepasta en tandeborsel deur.

“Ai,” sug Trommel, hy het gewag vir daardie gil. Hy vat maar ʼn ekstra groot beker warm sjokolade vir haar saam.

Toe hy die kamer inkom, weet hy nie of hy moet lag of huil nie. Ella Bella is besig om met haar klein voetjies op en af op haar tas te spring, in ʼn poging om die gedoente toe te kry. Sy kon nie kies nie en het toe sommer maar alles ingepak. In haar kop het sy redes vir alles gehad. “Wat as dit reën? Wat as ek wil swem? Wat as dit koud is? Wat as ek wil perdry?”

“Hartjie, jy moet dalk maar eerder ʼn groter tas vat,” sê Trommel terwyl hy die petalje aanskou.

Gelukkig is Stekels nie hier nie, anders het sy nie die einde daarvan gehoor nie. Hy het by sy nefie in die Bosveld gaan kuier en gister al saam met Arkon die arend gevlieg. (Hy hou gelukkig nie van krimpvarkies eet nie.)

“Maar ek het Kabouter belowe ons sal lig pak,” sê sy uitasem van al die gespring. Kabouter het gesê daar is so baie goed wat saamgaan die keer, dat ons net ʼn klein gaatjie gaan hê in haar rugsak.

“Dan moet jy maar uitpak, dis al raad” antwoord Trommel.

“Nee gits, daar is nie nou tyd vir dink nie, bring maar die groter tas vir my asseblief, ek sal maar askies sê vir Kabouter en Viola.”

download

ʼn Halfuur later is die deure agter hulle toegetrek, instruksies vir tannie Bessie Besie gelos en is die twee sak en pak by die bakkie. Viola en haar man het vir Kabouter sommer so in haar slaapklere ingelaai want sy is nog vas aan die slaap. Viola het stilletjies Kabouter se rugsak oopgelos en ʼn gemaklike kussing op die sitplek gesit sodat die twee rakkers kan inklim en hulle goed kan inpak.

En daar is die vrolike klomp toe nou vort. Hulle gaan oorslaap die aand op ʼn dorpie in die koue berge op ʼn skaapplaas. Ella Bella kan nie wag nie, sy het nog nooit met ander skape as die in die veld naby haar huis gepraat nie en sy wonder of die bergskape ander stories gaan hê.

Merino Sheep, Bredasdorp, South Africa

Trommel het sy kamera ingepak en dit gaan net so kliek-kliek-kliek soos hy die knoppies druk om al die mooi natuurskoon af te neem. Hy skryf stories vir die plaaslike nuusblad en het hulle belowe om ʼn reisartikel oor die vakansie vir hulle te skryf. Ansie muis sal darem maar baie in haar skik wees dit ʼn topverkoper is en ag, hy hou tog so baie van haar. (Nie dat hy dit al ooit vir haar of enige iemand gesê het nie.)

Die twee eet hulle kaduks aan die smaaklike padkos wat Trommel vir hulle gemaak het en bekyk die wêreld grootoog. Wanneer hulle moeg geraak het, het hulle op die sagte kussing omgedop en geslaap.

Die aand op die plaas het Ella en Kabouter hulle self poegaai gespeel op die wipmat, in ʼn boomhuis geklim en hulle sat gelag toe die plaaskat vir Trommel al oor die werf gejaag het. Ella Bella het ook geselsies gemaak met die skape.

“Julle moet bbbbaaaaie mooi ry en dddaaankie vir die gesels” het Essie die Marino vir Ella Bella geblêr toe hulle groet. Ella Bella het ʼn reisdagboek waarin sy al haar gedagtes neerskryf  en sommer nuwe vriende se adresse ook. Sy het Essie sʼn gevra en belowe om vir haar te skryf. Miskien as Korrels weer sterk is, kan hulle ʼn uithouvlug na haar toe doen.

“Trommel, jy gaan my ʼn roomys skuld as ek die see voor jou sien” het sy slaperig gesê toe hulle by Kabouter op haar kussing gaan lê.

“Gmf, en wat laat jou dink ek gaan hom nie eerste sien nie?” het hy gevra.

“Want jy is so besig met jou storie en padkos dat jy skoon vergeet om op te kyk!” terg Ella Bella.

“Slaap nou julle twee” praat Kabouter sag,” anders gaan julle altwee te moeg wees om enige iets te sien!” Met die trek hulle die komberse oor hulle en raak aan die slaap.

Elkeen het sy eie mooi drome die aand gehad en hulle kon nie wag vir die volgende dag nie, want hulle gaan teen middag se kant by die see wees.

Ons sal binnekort hoor wat het alles by die see gebeur. Vir nou moet ons eers groet.

Foto’s: TurboSquid Scription; Getty Image’s