Die Avonture van Ella Bella: Die Towertuinseremonie.


“Geagte vriende en familie…,” nee gits, dit klink so styf soos ʼn besemstok dink Ella Bella. “Dierbares en geliefdes…,” te veel soos ʼn begrafnis, so nee. “Ag toggie,” sug Ella en pluk aan haar rok en vryf haar neus. “Waarom moet ek dit doen?” mompel sy hardop.

download

Sy is besig om voor die spieël te staan en haar toespraak vir die seremonie, waarin sy vir Kabouter die towerklippie gaan gee, te oefen. Ella is nie een vir toesprake nie en vanaand wens sy so haar mamma, Annabel, was hier. Haar ogies raak sommer waterig as sy daaraan dink.

“Want jy het belowe,” praat Trommel agter haar.

“Hiertjou!” roep Ella Bella terwyl sy wip soos sy skrik. “Jy moet my nie so bekruip nie Trommel, ek sal ʼn hartaanval kry!”

“Askies Ella,” sê Trommel kop onderstebo. “Hier, ek het vir jou, jou gunsteling Roosmalva tee gemaak om jou te help kalmeer. Hoekom bekommer jy in elkgeval so? Wees net jouself en jy ken tog almal wat hier gaan wees vanaand.”

“Ja maar, dit moet spesiaal wees. My mamma en Viola sou dit so wou gehad het en my mamma was grasieus en goed daarmee. Ek het wille rooi hare en geen elegante woorde nie,” sê Ella moedeloos terwyl sy met ʼn groot “doef” op haar stoel gaan sit. Haar pragtige kristalgroen feetjierok maak sommer ʼn valskerm om haar en die feetjiepoeier maak glinsterende wolkies om haar vlerkies. “Kyk net hoe mooi het Viola die tafels gedek vir Kabouter en haar pappa se gaste. Ek kan nie afsteek nie.”

3f230ef5b6f7cc5e91a9942651a65c0c

Sy het die mooi rokkie laas aangehad toe sy haar mamma vir die laaste keer gegroet het. Annabel het dit vir haar by die Ysprinses in Ysland gekry toe sy haar besoek het. Sy het gehoop dat as sy hom aantrek, haar mamma se stem in haar hart met haar sal praat, en haar die regte woorde sou gee.

“Kom hartjie, drink jou tee en moenie op jou rok mors nie. Ag jy lyk so pragtig!” sê Trommel terwyl hy haar blomkoppie aangee. Hy is so trots op hierdie rooikop rabbedoe.

“Jithlaaik Ella Bella, maar jy lyk vanaand soos ʼn regte feetjie!” roep Stekels in vervoering uit terwyl hy die kamer in waggel net toe Ella ʼn fyn silwer kroontjie op haar rooi krulle sit.

“Maar ek is ʼn regte feetjie! Wat probeer jy sê Stekels?” is Ella sommer op haar perdjie. Haar senuwees is gedaan.

“Uhm, aaah, ag Ella thieth man, ek probeer jou net beter laat voel, en …en jy lyk regtig baie mooi,” probeer Stekels die oomblik red.

“Ai Stekels, kom ons los haar bietjie alleen. Jy het in elkgeval weer rooi bessies op jou rug en netnou besmeer jy haar rok. Toe, toe kom ons gaan.” En met daardie woorde boender Trommel vir Stekels uit die kamer en trek die deur agter hom toe.

download (5)

“Ag mamma, help tog bietjie,” fluister Ella toe sy voor haar venster gaan staan en sien hoe al die gaste onder die eikeboom vergader. Haar keel is sommer droog.

Almal is opgetof vir die spesiale geleentheid. Tannie Bessie Besie het tot haar rooi veerhoed op en Fanie wurm het ʼn lemmetjiegoren kolletjies strikdas aan. Sannie By het blinkertjies op haar bene en Korrels het sy mooiste onderbaadjie aangetrek en Trommel lyk soos ʼn wafferse kelner met sy swaelstert jassie. Hy het die wonderlikste kossies vir hulle gemaak en die tafels lyk vreeslik mooi. Rooi pynappelsalie blommetjies is vol nektar gegooi en die gaste drink te fyntjies daaruit. Stekels het van Ella se glinsterpoeier gegaps en dit oor al sy pennetjies gesmeer. Hy lyk amper soos ʼn disko-bal. Hy bedien bessies, wat op die punte van sy pennetjies is, as voorgereg en knoop sommer geselsies aan soos hy deur die gaste loop.

Elsa Spinnekop het blink silwer draadjies gespin waarop Lampies en al sy vuurvliegie-vriende kan sit om “Welkom” te kan spel. Sy is hard besig om hulle in plek te kry. Die arme vuurvliegies weet net nie lekker vir watter van haar baie arms wat beduie hulle moet kyk nie.

Stil-Stoffel is die vlermuis. Hy is aangesê om seker te maak dat die muskiete nie al die nektarkelkies opdrink nie. Hy kan nie wag om Kabouter te ontmoet nie, hy gaan haar nou nie kan sien nie, maar hy sal haar stem kan hoor. Hy gebruik mos sy sonar om die muskiete op te spoor.

download (6)

“Jy sal piekfyn wees Ella,” kom ʼn sagte stem in die kamer. Ella vlieg om, maar daar is niemand nie. “Mamma!” snik Ella Bella en hardloop nader. Al wat in die kamer hang is ʼn sagte blou lig. Tog voel dit vir haar of haar ma haar vashou en sy voel stadigaan beter. “Nou toe, laat ek gaan voor my moed my begewe”. Sy vroetel vir oulaas met die Rooskwarts klippie en klim die trappies af, tot by die gaste.

Intussen kruip Kabouter agter die druiweprieel weg. Sy is seker niemand het haar tot hier gesien nie, maar sy wil net weer seker maak voor sy die laaste stukkie na die eikeboom toe aanpak. Haar mamma het haar reeds gebad, en snaaks genoeg nie vir haar slaapklere aangetrek nie, maar ʼn pragtige laventelpers rokkie. Sy het gesê dit is omdat dit haar en pappa se verjaarsdagete is saam met die grootmense en sy mag nog buite speel.

Viola het geweet dat die Towertuinseremonie die aand sou plaasvind en het daarom vir Kabouter so mooi aangetrek. Sy sien juis so uit die hoek van haar oog dat sy verby die druiweprieel sluip op pad eikeboom toe. Sy hoop dat haar meisiekind die nuwe wonderwêreld baie gaan geniet en loop met ʼn bly hart terug na haar gaste toe.

“Hier kom sy! Hier kom sy! Oe, kyk net hoe mooi is sy en hoe mooi lyk sy!” al die gaste fluister en roep gelyktydig en skarrel tussen die blare in.

Lilacfairy_blogalacart-17

“Sjuut! Julle maak so lawaai julle trek netnou die grootmense se aandag!” raas Ella Bella.

Met moeite raak almal stil en die volgende oomblik is Kabouter by die eikeboom. Dit lyk soos ʼn sprokie. Lanterntjies en gekleurde feetjieliggies met die mooiste gedekte klein tafeltjies. Sy weet nie waar om te kyk nie. En Ella Bella! Sy lyk so mooi! Sy het haar amper nie herken nie. Die gaste het eers tussen die blare gaan wegkruip so sy sien hulle nie nou nie.

“Ella Bella! Jy het die mooiste rokkie aan en kyk net hoe blink jou vlerke!” roep Kabouter opgewonde uit.

“Hallo Kabouter, jy lyk self ..uhm…wel…mooi,” antwoord Ella half ongemaklik. Ietsie in haar hartjie het geroer toe sy die mooi dogtertjie sien naderkom. Sy moet dit nou maar erken, sy sien uit om haar as maatjie te hê. Sy weet net nog nie hoe om dit te wys nie.

download (4)

“Hoekom is jy so mooi aangetrek en hoekom is hier so baie liggies en klein tafeltjies?” vra Kabouter nuuskierig. “Is dit nog ʼn partytjie vir my verjaarsdag?”

“Amper so iets ja.”

“Nou wat is dit dan Ella?” karring Kabouter.

“ Kom sit hier by my,” sê Ella Bella en Kabouter gaan sit op haar gunsteling stomp onder die eikeboom.

“Met sononder vanaand het jy twee jaar oud geword en is dit tyd dat jy deel kan word van iets baie spesiaal,” begin Ella verduidelik. “Jy sien, toe jou mamma so oud was, het my mamma, Annabel, ook so partytjie vir haar gehou waar sy vir haar ʼn spesiale Rooskwarts klippie gegee het. Daardie klippie is baie kosbaar want hy maak dat jy kan klein word en deel kan word van die Towertuin wêreld.”

Kabouter se oë het groot gerek, en haar mondjie het oop en toe gegaan en uiteindelik het sy woordjies kon uitkry. “Beteken dit dat ek in jou huis sal kan kom kuier?” vra sy verstom.

“Jip, dit is wat dit onder andere beteken ja,” antwoord Ella met haar handjies agter haar rug terwyl sy heen en weer wieg. Sy probeer haar bes om nie te wys hoe bly sy is dat Kabouter so opgewonde is nie.

“Oe! Nou gee die klippie vir my. Waar is hy?” sê Kabouter ongeduldig-nuuskierig.

“Stadig nou eers. Daar is dinge wat jy eers moet leer en van weet. Towerkrag is nie iets om net rond en bont mee te speel nie,” sê Ella Bella streng.

images (5)

“O, oukei…skuus ek het nie geweet nie,” Kabouter is so nuuskierig en opgewonde dat sy haarself nie kon help nie.

So haal Ella Bella die spesiale Rooskwartsklippie uit ʼn blou fluweelsakkie. Dit is die mooiste klippie wat Kabouter al ooit gesien het. Hy is deurskynend pienk en blinkglad en in die vorm van ʼn hartjie.

“Hou jou handjie uit” beveel Ella Bella en Kabouter steek haar handjie uit. Sag sit sy die koel klippie in haar handjie en vou haar vingertjies toe.

“Die volgende woorde moet jy duidelik sê en vir altyd onthou: Klippie, Klippie fyn en rein, maak my lyfie ook weer klein. Jy moet dit sê en dan die klippie in die spesiale gaatjie hier in die boom druk.” Kabouter het aandagtig geluister en toe sommer dadelik die klippie ingegedruk die woorde gesê.

ʼn Helder blou lig het om haar begin warrel en skielik kon sy voel hoe sy kleiner word, soos sy in die lug ronddraai. Saggies land sy op twee klein voetjies en kyk vas in Ella Bella se oë. Hulle was nou ewe groot.

“Dit is so wonderlik!” het Kabouter bly uitgeroep en vir Ella sommer amper onderstebo gedruk.

“Ja, uhm, dit is heel indrukwekkend,” het Ella Bella uitgekry terwyl sy stokstyf in Kabouter se greep staan. Haar kroontjie het heel skeef gedruk. Haar hart het sommer ʼn slag gemis. Sy is lanklaas so styf vasgehou.

download (2)

“Nou!” roep Elsa Spinnekop uit en swaai al haar arms gelyk. Die vuurvliegies se stertjies begin gloei en daar spel hulle “Welkom” tussen die blaretakke van die eikeboom. Reg bokant die mooi gedekte tafeltjies. Ook net lank genoeg vir Kabouter om dit te sien, voordat hulle van opgewondenheid nader gevlieg het en om haar kop kom draai het van nuuskierigheid.

“Ek wonder of sy ons al kan hoor,” het Lampies vir sy maatjies gesê. “Nee man, Ella het nog nie die poeier gegooi nie. Sy hoor nog net ʼn gezoom.”

“Ahem,” maak Ella Bella keelskoon. “Sy kan eintlik al hoor. Ek het Vrydag per ongeluk die poeier op haar laat val toe ek en Korrels in die ruit vas gevlieg het.

de-lijn-fireflies-600-64277

“O,” sê Lampies en skielik is hulle almal skaam en gaan sit weer op die draadjies.

Die blare het begin bewe soos al die gaste versigtig uit hulle wegkruip plekke nadergekom het. Kabouter kon nie ophou in die rondte draai en uitroep nie, alles was net te fantasties vir haar.

“Outjies, kan ek julle aandag kry?” probeer Ella die gaste se aandag trek maar niemand luister na haar nie. Almal is besig om al om Kabouter te loop en gelyktydig met haar probeer gesels en aan haar te vat.

“Haai!” Skree Ella Bella in ʼn stem wat glad nie by haar rok pas nie. “Sal julle nou stilbly?”

Verskrik kyk almal op en bly tjoepstil. Dit was tyd vir Ella se toespraak.

“Kan ons almal nader staan,” beveel Ella die gaste. “Kom klim jy hier op die stoel Kabouter”

“Hallo almal, soos julle weet is dit vanaand Kabouter se tweede verjaarsdag en het die tyd aangebreek om die mooi tradisie wat ek van my ma en ouma oorgeërf het te laat voorgaan. Duidelik werk die klippie nog, want hier is ʼn klein mensie in ons midde. Haar naam is Kabouter en sy is Viola se dogter.”

“Pragtige kind,” fluister Tannie Bessie Besie en snuif sommer ʼn traan weg.

“Ja tannie, maar kan ek eers klaar praat voor tannie in trane uitbars?” spreek Ella haar aan. “Skuus Ella,” snuif die tannie.

“Ek hoop dat ons hope avonture saam met haar sal hê en dat julle haar elkeen in julle harte sal toelaat. Kom ons hou partytjie, want my woorde is nou op.”

“Hoor, hoor,” skree Korrels bo van ʼn tak af. “Verseker!” kom dit van Fanie wurm af.

download (3)

Êrens verbeel Ella haar het sy haar ma gehoor sê: “ Jy het goed gedoen my kind”

So het Kabouter deel van die wonderwêreld van die Towertuin geraak en heerlik saam met almal gekuier. Later het sy en Ella Bella met vol magies in haar hangmat gaan sit, toe die ander gaste nagereg geëet het, en dromerig oor die tuin gestaar. Viola-hulle was besig om die laaste tafels op te ruim.

“Kom dit is tyd om huis toe te gaan,” het Ella vir Kabouter gesê. Hulle het saggies tot by die stomp gesluip en daar het Ella Bella vir haar die tweede deel geleer: Klippie, klippie in my hand, vat my terug na die menseland. Sy het 3 keer in die rondte gedraai en “woeps” daar is sy weer groot.

“Baie dankie Ella Bella! Dit was vreeslik lekker. Jy moet lekker slaap,” het Kabouter haar gegroet.

“Lekker slaap Kabouter. Onthou om jou klippie veilig te bêre. Ons kuier sommer gou weer.”

Viola het uit die opwas gesien hoe Kabouter stil oor die gras na die deur toe trippel. Haar kind het gegloei van blydskap en sy was baie dankbaar. ʼn Klein handjie het vir haar deur die venster gewaai. “Nag Ella” het sy gefluister en terug gewaai.

Kabouter was al in droomland toe sy haar ʼn goeienagsoentjie gaan gee het en die komberse styf om haar gevou het.

Wat ʼn groot avontuur was dit nie vir almal nie. Sien julle weer volgende keer.

Foto’s in orde van plasing: Fairy Figure inspiration; CakeCentral ; Pinterest, HDWallsources; Blog a la Cart; Favim.com; BeeCharms’ success; Etsy; YouTubePinterest,