Die Avonture van Ella Bella: Die ontmoeting


“Haai! Koeeeewee!” Ella spring skoon op en af soos sy gil. Sy is sopnat en besig om vies die water uit haar oë te vee.

Die klein dogtertjie met die blonde haartjies gaan staan vir ‘n oomblik stil langs die laventelbos. Sy is seker sy het nou net iets gehoor, maar die sproeier waardeur sy besig is om te hardloop trek gou weer haar aandag af.

“Jissie, dat ek nou so moet sukkel vandag” mompel Ella ontsteld en met haar klein tuinvurkie steek sy die toon voor haar raak.

“Eina!” skree die blondekoppie buk af om haar seer toon te inspekteer. Skielik is die seer vergete en staar sy met groot oë na die dingetjie voor haar. Nuuskierig steek sy haar handjie uit om daaraan te raak. “Los my uit! Jou, jou..groot lomp reus!” Ella swaai haar haar armpies wild om die handjie wat naderkom weg te jaag.

f3cbbd3d3e192de3570f7f62c624c292

Met haar wipneusie en sproeitjies wat parmantig onder haar nat blaarhoedjie uitloer, maak Ella nogal ‘n dierbare prentjie, veral as sy so kwaad is. Sy probeer hierdie mensekind se aandag trek want sien, sy en die ander tuinbewoners spoel nou al uit hulle huisies uit, van al die water wat op hulle reën . Die sproeier loop nou al gans te lank en sy wat Ella Bella is, is nie verniet die tuinfeetjie wat moet seker maak dat die res van haar towertuin veilig en beskerm is nie. Die kraan is net te swaar vir haar om toe te maak en haar feetjiepoeier het ook natgereën, want sy het die sakkie buite haar skatkis vergeet. Sy wens sy was nie so agterlosig nie.

As dit dan nou beteken sy moet kontak met die mensekind maak om hulle te red, dan is dit wat sy sal doen. Kindertjies word darem nog in hulle wêreld toegelaat. Dis die suurknol grootmense wat hulle uithou. Hulle is in elkgeval te besig om enigeiets so klein raak te sien, wel almal behalwe ‘n paar uitgesoektes.

Die blou ogies van die blonde dogtertjie het opgewonde begin vonkel, want sy het reg gehoor, iemand het met haar gepraat en sy lyk baie soos die feetjie wat haar mamma haar van vertel het! “Hallo, wat is jou naam?” vra sy versigtig. “Ek is Ella Bella en jou sproeier is besig om ons te versuip, draai asseblief die kraan toe!”

“So jy is regtig, my ma maak jou nie op nie? Oeee, ek gaan my mammie moet vertel!” roep die blouoog bly uit.

“Natuurlik is ek regtig, dink jy ek gaan hier staan en skree vir niks?”

“My naam is Kabouter en my mamma het gesê as ek mooi kyk sal ek jou eendag sien, maar ek het gedink sy jok sommer. Is al jou ander maatjies dan ook regtig?”

“Luister kind, ek het nie nou tyd vir praatjies nie. Fanie Wurm is al uit sy gat uit gespoel en Sannie By se stuifmeel is een groot nat koek. Maak asseblief die kraan toe.”

” Net as jy my belowe ek mag jou weer sien en dat jy met my sal speel en…en as ek jou maatjies mag sien.”

“Aaargh,” grom Ella Bella, dis nou vir jou afpersing. Maar sy het nie ‘n keuse nie. Sy sal ja sê en hoop die dogtertjie vergeet van haar deur die nag.

“Nou goed, dis reg so, maar maak nou gou voordat iemand doodgaan.”

“Jippee!” gil Kabouter bly. “Stap saam met my,” nooi sy.

Uh, nee jong ek wag eerder net hier,” Ella is van plan om te verdwyn sodra Kabouter kraan toe stap.

“Goed, staan stil ek is nou terug,” beveel klein Kabouter en woerts hardloop sy om die kraan te gaan toedraai. Sy maak vinning want sy wil baie graag nog met Ella Bella gesels.

Maar Ella het stilletjies weggevlieg en loer nou vir Kabouter deur die varkore se blare.

“Ella, Ella Bella!” roep Kabouter toe sy terugkom en Ella nie daar kry nie maar Ella antwoord nie. Sy is skoon hartseer, Ella het dan belowe. Met trane in haar ogies soek sy tussen die plante. Ella Bella is nêrens te sien nie.

Vir ‘n oomblik het Ella se hartjie seer geraak toe sy klein Kabouter se trane sien, maar sy het haar skouers geskud en besluit dat dit is die beste so. Toe sy omdraai om weg te loop, loop sy vas is tannie Bessie Besie. “Jy het belowe Ella,” sê sy kwaai. “Jy weet dat dit is ‘n groot sonde om ‘n belofte te breek, veral een aan ‘n kind, en jy het haar Ma lankal belowe.”

“Maar, ek het nie nou tyd nie tannie,” probeer Ella Bella lomp verduidelik.

“Nonsies. Jy loop maak klaar wat jy moet en dan gaan maak jy die ding reg met klein Kabouter,” raas tannie Bessie Besie. Ella het net haar kop geknik, want jy sukkel nie met die tannie nie.

Sy raak toe so besig om almal te help huis opdroog dat sy skoonvergeet om weer vir Kabouter te gaan soek. Die klein bloedjie het met trane in haar ogies vir haar mamma van Ella Bella met slaaptyd vertel en dat sy nie haar belofte gehou het nie. Haar mammie het stil geword en by die venster uitgekyk, toe sy omdraai het sy vir klein Kabouter gerus gestel dat sy doodseker is Ella Bella sal terugkom.

Kabouer was al in droomland toe haar mamma aan Ella Bella se boom gaan klop het. Ons sal maar moet wag en sien wat het gebeur…

images

 

Fotos: Pinterest;Mary Baxter