Die Avonture van Ella Bella: Die Begin van ‘n Vriendskap


“Pasooooooop!” skree Ella, maar dit is te laat. Doef! Tref hulle die ruit en daar trek Ella Bella met ʼn boog deur die lug. Korrels sien net stof, vere en sterre en toe niks nie.

images (11)

Gillend val Ella in die blombak met hondekruid in. Sy het gelukkig nie seer gekry nie, want die plant het sagte vet blare. “Korrels! Korrels! Is jy oraait? roep Ella Bella bekommerd terwyl sy op staan, maar daar kom net een groot stilte vir ʼn antwoord.

Korrels is ʼn bosduif wat Ella besig is om hom te help met fisioterapie. Iemand het hom met ʼn windbuks in die vlerk raakgeskiet en hy kon vir lank nie sy vlerk gebruik nie. Ella het die patroon uit sy vlerk gehaal, maar hy sukkel om te vlieg,so hy en Ella Bella gaan elke oggend met sonop vir ʼn oefenvlug. Ella ry dan op sy rug en praat hom moed in, soms strooi sy bietjie van haar feetjiepoeier ook oor die vlerk sodat dit nie so seer is nie. Dit is belangrik dat Korrels die vlerk elke dag oefen sodat dit weer sterk kan word.

Vervaard sit Kabouter regop in haar bed. Haar haartjies staan in alle windrigtings en sy vryf haar ogies met haar vuisies. “Wat was dit?” dink sy en staan op haar knieë op haar bed om by die venster uit te kyk. “En hoekom ruik dit soos die see,” wonder Kabouter.

Daar sit ʼn groot stofkol teen haar ruit en daar is net vere waar jy kyk. Toe sy afkyk, sien sy iets beweeg in die blombak. Sy kan haar oë nie glo nie. Haar mamma was reg! Ella Bella het teruggekom!

Soos ʼn pyl uit ʼn boog vlieg sy van die bed af en hardloop opgewonde voordeur toe. “Waar gaan jy, Kabouter?” roep Viola uit die kombuis uit.

“Ek gaan ietsie kyk mamma!” gil Kabouter opgewonde van die portaal af. Sy moet nou net die plastiektrappie regsit sodat sy by die deur kan bykom. Haar mamma het haar nou al mooi gewys hoe werk die sleutels. Al sukkel sy nog ʼn bietjie, is sy vasbeslote om dit vandag reg te kry.

“Kom nou Korrels, word nou wakker,” smeek Ella Bella terwyl sy hom teen die wang tik. Sy hart klop darem nog, maar hy lê so uit soos ʼn kers, op die naat van sy rug, onder die kamervenster. In die boom agter haar sit ʼn paar jong mossies en giggel. Hulle het gesien hoe Korrels in die venster vas vlieg. “Wat lag julle, hy kon baie seer gekry het” snou Ella hulle vies toe.

Net toe kom Kabouter daar aan gehardloop. “Hallo, Ella Bella!” groet Kabouter opgewonde. Sy het nie eers die bosduif op die grond raakgesien nie, so bly is sy om Ella te sien. “Dis jy wat soos die see ruik.”

“Ja, hallo,” groet Ella kortaf terug. Sy bedoel nie om lelik te wees nie sy is net baie bekommerd oor Korrels. “Dis die hondekruid wat so ruik, jou ma het dit onder julle vensters geplant sodat die see se reuk altyd naby is wanneer jy na jou ouma’s en oupa’s verlang,” verduidelik Ella.

“Is, is jy dan kwaad vir my?” vra Kabouter onseker, sy voel sommer afgehaal dat Ella Bella nie bly lyk om haar te sien nie. “ Ek belowe ek sal nie die sproeier weer so lank aan vergeet nie.”

“Nee man, ek is nie kwaad vir jou nie. Kan jy nie sien Korrels het seergekry nie?” antwoord Ella ongeduldig. Toe eers sien Kabouter die groot bosduif op die grond. “Ai, einatjie tog!” roep sy uit. “Wat het gebeur?”

“Hy het in jou kamervenster vasgevlieg toe hy vir daai kolletjieballonne by die hek in plaas van voor hom gekyk het,” verduidelik Ella Bella. Sy weet Viola het die ballonne opgesit sodat Kabouter se maatjies weet waar die partytjie is, maar sy wens op die oomblik die goed bars sommer.

Sien, vandag is Kabouter se verjaarsdagpartytjie. Sy verjaar eers eintlik Maandag saam met haar pappa , maar haar mamma hou vandag al haar partytjie sodat haar maatjies kan kom kuier.

“Ek is jammer, maar is hulle nie mooi nie? Ek en mamma het hulle laat gistermiddag opgesit,” sê Kabouter. “Kom ons gee hom bietjie water, miskien help dit,” stel sy voor.

“Blink plan, kry jy solank die water. Ek sal hier by hom bly.”

Intussen het Viola saggies in Kabouter se kamer ingegaan en die hele petalje deur die venster dopgehou. Sy het stil geglimlag en tevrede omgedraai. “So ja, daar is die saadjie van vriendskap nou gesaai,” het sy gedink. In die kombuis het sy ongesiens die medisynespuit klaar vol water getrek en naby die kant van die tafel gesit sodat Kabouter dit maklik kan bykom. Ook net betyds, want toe kom sy juis soos ʼn warrelwind in die kombuis ingehol.

“Ek is nou nou terug,” roep sy so in die verbygaan terwyl sy die spuit van die tafel af opraap. Vir ʼn klein oomblikkie het sy gewonder hoekom die spuit klaar water in het, maar haar haastigheid om by Korrels te kom, het haar aandag gou weer afgetrek.

“Spuit hom in sy gesig,” beveel Ella Bella. “Toe, toe, maak gou,” jaag sy vir Kabouter aan toe sy huiwer.

Sjoerts! Spuit Kabouter Korrels se hele gesig papnat. Hy begin dadelik woes nies en proes. “Www wat het gebeur?” stotter en spoeg hy. Sy vere is skoon opgepof so deurmekaar is hy.

“Dankie tog!” begin Ella verlig giggel. “Jy het weer soos ʼn by in ʼn blommetuin rondgekyk en toe in die venster vasgevlieg, dommie!”

“Hy kan praat!” roep Kabouter verstom uit. “Natuurlik kan hy praat, wat het jy dan nou gedink,” laat Ella Bella verontwaardig hoor. “Hy is lomp nie stom nie.”

“Maar ek het nog nooit diertjies hoor praat nie,” antwoord Kabouter deurmekaar.

“Ek is Korrels, aangename kennis. Jammer dat ek jou laat skrik het en dankie dat jy my help het.”

“Ek is Kabouter. Dit is ‘n plesier. Ek is bly jy is nou weer reg.”

“Mmmm, ek wonder wat het gebeur” sê Ella. Toe voel sy eers die sakkie met poeier is weg. Vervlaks, sy wou dit nog in die skatkis bêre vanoggend maar toe raak sy besig met Korrels. So nou kan Kabouter hoor, maar sy kan nog nie klein word nie. Dis nie die einde van die wêreld nie, sy sal maar net die seremonie bietjie aanpas, dink Ella Bella.

Toe Ella van Korrels se rug afgeval het, het haar sakkie met feetjiepoeier, wat sy in haar skatkis moes gebêre het vir Sondagaand, uitgeval en die poeier het by Kabouter se kamervenster ingewaai tot op haar neus. Dis hoekom sy nou die diertjies kan hoor. Ella Bella het beplan om dit oor haar te gooi wanneer sy Sondagaand vir Kabouter die rooskwartsklippie gaan gee by die spesiale Towertuin-seremonie.

My feetjiepoeier het seker oor jou gewaai toe my sakkie uitgeval het met die val slag. “Oe maar dit is wonderlik” giggel Kabouter. “Gaan ek hulle nou vir altyd hoor?

“Uhm…ek..”

“Kabouter!” roep Viola. “Ek gaan jou koffie onder die eikeboom sit. Dit is so lekker oggend, ʼn bietjie vars lug sal goed wees.” Sy weet dat Ella Bella en Kabouter nog bietjie sal wil gesels, daarom het sy die voorstel gemaak. Viola het sommer vir Korrels ʼn paar saadjies in die voëltjie bak ook gegooi. Siestog, die arme ding het ʼn groot skrik weg.

“Dankie mamma!” antwoord Kabouter. “ Kom saam, dan wys ek jou sommer al die mooi goed vir die partytjie.”

Birdfeeder

Daar is die drietjies toe nou vort. So tussen slukkies koffie en opgewonde beduie, het Ella Bella toe vir Kabouter na die Towertuin-seremonie toe genooi.

“Jy moet Sondag, net na sononder, hier na die eikeboom toe kom. Maak seker dat die grootmense jou nie sien nie. Ek sal vir jou wag. Daar is ʼn spesiale verjaarsdaggeskenk wat ek vir jou wil gee.”

Kabouter kan nie wag nie. Maar vir nou gaan sy eers partytjie hou.

Ons sal almal maar tot Sondagaand toe moet uithou om te sien wat alles by die Towertuin-seremonie gaan gebeur…

Foto’s:Pinterest; Pinterest;Shot of adventure