Clarens, die Oos-Vrystaat se kunshart


Elke keer wat ek in Clarens aankom voel dit of ietsie in my loskom. Daardie stadsonderdrukte vryegees wat weer kan vlerke sprei en asemhaal. Alles hier pluk aan jou hart, van die poskaartmooi berge tot die karaktervolle sandsteenhuise en helder blou lug.

img_1305-copyimg_1350img_1504

Nie eers die feit dat dit Augustusmaand is en die Vrystaat sy bruin en geel baadjie aanhet, kan afbreek doen aan hierdie stukkie hemel nie. Clarens is ʼn volronde gasheer. Net soos sy Vrystaatse niggie, Parys, bied hy jou nie net ʼn keuse van fynproewer restaurante en boetiekwinkels nie, maar ook ʼn goeie skoot avontuur. Ek, Chemieman, ons woelwater en skynbaar die hele Gauteng, het die dorp gaan rooi verf vir my verjaarsdag. Niemand kan ons blameer, as die stukkie juweel maar net ʼn skamele 3.5 ure se ry van Johnnesburg se lawaai af is nie. (Veral nie as jy in so mooi plekkie soos Perry Winkle Grove Cottage kan oorlê nie.)

img_1479 img_1477 img_1475 img_1474

Hier is ʼn paar besoeke wat beslis die moeite werd is.

Boeresjiek, boeke en mooi goed wat sny

Op die eerste dag loop ons Mooinooi, Bibliophile en Bossie mesmakers in ʼn stil stofstraatjie raak. Helderkleurige staalblomme en oulike nommerplate begroet ons op Mooinooi se stoep en binne is ʼn klein skatkis van huistooisels en oudhede. Ek het veral verlief geraak op die ou kasregister wat my so baie aan my eie grootword jare op die platteland herinner het. Modern en oud pronk sjiek langs mekaar. My man het natuurlik die mesmakers gaan bekyk. Jy kan hulle ook dophou in hul werkswinkel en glo my, daar is messe wat enige man en selfs ʼn paar vroue se hart sal laat smelt. Bibliophile is woord-oase. Hier is boeke oor alles en nog wat en die lieflike uitsig oor die berg en die massas sonlig, wat deur die deursigtige dele van die dak kom, nooi jou om ʼn wyle te vertoef.

img_1264 img_1283 img_1288 img_1290-copy img_1266 img_1277

Tapyte en kuns met ʼn koue enetjie daarby.

House of Woven Art, is ʼn besliste stop vir enigiemand wat ʼn swakplek vir persiese tapyte het. Die twee manne wat die besigheid besit het Clarens sien groei van ʼn dorpie wat net ʼn vulstasie, slaghuis en handelshuis (wat hulle sʼn was) gehad het, tot die kunstenaarsdorp wat hy vandag is. “Ons het hard gewerk om ʼn sukses te maak van ons besigheid, mense dink dis ʼn plek om oornag ryk te word, veral met die baie oorsese toeriste wat hierlangs kom, maar hulle besef nie, dat dit ons plaaslike mense is, wat die geld spandeer nie. Ons het gesorg dat ons mark plaaslik gerig is,” vertel Quané Navarro my, terwyl hy my toelaat om ʼn foto of twee te neem.

Ons kele raak droog van al die geloop en snuffel in die kunsgalerye (waarvan daar baie is) en besluit om by die plaaslike brouhuis te gaan dors les. Dis ʼn heerlike bedrywigheid hier, want die stoep van die brouery kyk oor die gesellige plein van die dorp, waar kinders, jongmense en mammas met babas hulle uitwoel, ogies maak en uiltjies knip. Dit maak nie saak watter kant toe jy kyk nie, daar is ʼn berguitsig wat jou begroet. Boonop kon ek Chemieman salig hier agterlaat terwyl ons twee meisies die meer vroulike winkels gaan besoek het. Later het ons ʼn heerlike vleisie vir die braai by die slaghuis gaan koop.

img_1434 img_1435 img_1436 img_1442 img_1631

Motorfiets en avontuur Paradys

Die gebrul van motorfietse maak die volgende oggend heimwee in my wakker. Ek en my pa het op ons twee Honda Silver Wings menige male die pad van Fouriesburg na Golden Gate deur Clarens gery. Die wind in jou hare en die kronkels van die pad is byna eufories. Die strate van Clarens is selde sonder ysterperde en een van die winkels se valhelms van leer getuig daarvan. Vandag ry ons nie motorfiets nie, ons gaan bergklim. Golden Gate is so 30km daarvandaan en ʼn kort staproete daar is net die ding om ʼn lekker aptyt op te wek voordat jy Clarens se watertand kos, of soos ons Di Bus Stop se moerkoffie met mosbeskuit en pannekoek gevul met melktertvulsel (op pad terug) gaan aanvat. Hier kan jy ook perdry, vierwielmotorfiese absailing en ander andrenalien-pomp dinge aanpak. Hulle badstoel is te oulik, daarop mag jy net skoon gedagtes hê! In Clarens self is daar ook ʼn oorhangkrans waar ons waagmoediges aan toue sien af spinnekop het. Wintertyd kan jy ook vir jou ʼn ski-toer in die Maluti’s organiseer.

img_1528 img_1556 img_1558 img_1563 img_1564 img_1573img_1314-copyimg_1366img_1405img_1407

ʼn Kerk met ʼn houding

Sondagoggend hoor ek die kerkklokke se gebeier deur die vars oggend lug. Die dorpie is baie gewild vir troues. Een van die aptekers van Ficksburg, saam met wie ek in my gemeenskapsdiens gewerk het, het juis vertel hoe sy en die koetsier die koets al om die plein gery het, tot haar senuwees reg was om die kerk binne te gaan. Ek neem foto’s vir oulaas en kyk met verwondering hoe die handgebeitelde sandsteen kerk trots waghou oor die siele van die dorp en glimlag toe ek sien dat die tee, koffie en koekies sommer so oop-en-bloot buite, tussen die res van die dorp se rumoer wag, terwyl die mense nog diens hou (en niemand steel dit nie!)

img_1616 img_1617img_1304-copy img_1306  img_1412 img_1447  .

Slaapplek vir almal se sak

Wat die dorpie so aantreklik maak is dat jy kan kies tussen afgesonderde huisies en rugsakopsies tot vyfster en polsende verblyf reg bo-op die aksie van die dorp. Een wat vir my baie romanties was, was La Poste, wat oor The Post House (ʼn gesellige koffiekroeg-restaurant) en een van die kleurvolste strate van Clarens, vanaf sy balkon uitkyk.

Maandagoggend val ons in die pad terug na ons beton oerwoud toe, maar die berge en arende van Clarens se roep, eggo in my siel. Hierheen kom ek beslis gou weer terug.

img_1453img_1465

Foto’s : Yolande van Deventer