Broodjie-troos


Daar is vir my geen trooskos lekkerder as tuisgebakte brood met plaasbotter op nie. Soos Nëil Stemmet sê: “ek eet myself skoon agter myself.” (En dan lê die skaal ‘n eier daaroor.)

2014-08-03 15.46.052014-08-03 14.07.45

Ek en kleinding het hoeka vanoggend ons week se brood gebak. Jip, dis ‘n ritueel wat spesiaal is tussen ons twee. Sy sit haar”skoot-skoot” aan en meet dan die meel in een groot wit wolk af. Die sout en suiker word met groot bravade by die teelepel afgetel en dan word die botter lekker ingevryf en raak dit heel morsig as ons die louwater bygooi.  So leer ons tel en allerhande ander vaardighede en maak dit sommer net die ma-dogter band sterker. (Arme gogo Gladys moet net bontstaan om te help skoonmaak…dankie Gladys.)

So reken ek toe dat sulke lekker eet net ‘n sonde is as mens dit alleen doen. Daarom gaan ek my skoonma se resep (wat sy met baie liefde vir my man is sy bachelor’s kookboek neergeskryf het) met julle deel. Dit maak die lekkerste potbrood, boerbrood, rolletjies en vetkoek. Boonop is dit verspot maklik en goedkoop. Jy kan dit met witbroodmeel, of bruindbrrodmeel doen. Dis soos ‘n goeie witsous, heerlik op sy eie met opsies vir die eksotiese…gooi net by wat jou opgewonde maak maak jou eie variasie te bak.

Bestanddele:

7 koppies (250ml) broodmeel

10ml suiker

5ml sout

10g (een pakkie) kitsgis

so 50g botter (moet nou nie die brood in sy gesig vat en margarien gebruik nie)

ongeveer 650ml louwarm water (hang af hoeveel my kind oor die koppie afgemeet het..partymaal het ek bietjie meer nodig)

Hoegemaak?

  1. Sit die oond aan op 200 °C
  2. Gooi al die droë bestanddele af en vryf die botter in.
  3. Maak ‘n gaatjie in die middel van die meelmengsel en gooi die louwarm water in.
  4. Knie die deeg tot dit glad en elasties is.
  5. Gaan bos: Sit dit in gesmeerde broodpan of swartpot of rol dit in bolletjies. Vleg dit of maak ‘n lang brood. Net soos die gees jou lei.
  6. Maak dit snoesig toe en laat rys tot dubbel in volume.
  7. Bak vir omtrent 35 minute as dit groot brood is en so 20 minute as dit bolletjies is.

Kry ‘n lekker koppie koffie en ‘n stil plek en smul tot jy tot agter jou ore blink!