7 dae van Ierse Sjarme


Flieks oor Ierland jok nie, dit is elke stukkie so groen en romanties soos wat dit uitgebeeld word. Die mense is passievol, vriendelik en het die mooiste aksent. Ons het dit eerstehands ervaar met die Irish Wonder toer van Trafalgar.

cliffs-of-moherimg_0302-003

Ierland het my nog altyd gefassineer, behalwe dat ek Guinness en Jameson van my gunsteling drankies is, was dit ook hulle geskiedenis wat my getrek het. Net soos ons land het hulle baie harde klippe gekou en is ʼn nasie wat gebrei is deur konflik en die wil vir onafhanklikheid.

Dag een 1:Dublin (Doe-blin soos die plaaslike mense sê)

Dit is ʼn nat Dublin lughawe waarop ons aankom, (lafenis na die Abu-Dabi dorheid) en manlief stap vol selfvertroue na waar die doane moet wees (hy het die hele aardbol al vol gevlieg). Ek maak of ek weet wat ek doen en hou flink by. In die ry staar ek nuuskierig na die mense. “Kyk daar is ook mense met Trafalgar goedjies in hulle hande. Ek wonder of hulle ook saam met ons gaan?”, stamp ek opgewonde aan Rudolph. Hy kyk meer subtiel as ek. Die mense gewaar ons en die vrou waai ewe vriendelik. Dit was nie twee minute later nie of ons het klaar oor en weer gegroet, agtergekom dat hulle ook Afrikaans is en in Pretoria woon. Pats en Kobus Janse van Rensburg word net daar ons reismaats en vriende.

Na die inboekery by die Jury’s Inn te Parnellstraat, is ons almal op ʼn bus waar ons Dublin Castle, Trinity College, St Patricks Cathedral en Phoenix Park sien. Ek raak dadelik verlief op die pragtige stad. Ons sien ook Bono se hotel in die Temple Bar distrik. Die aand praat ons land en sand oor ʼn lekker Jameson en beplan wat ons nog alles hier gaan kom kyk op dag laaste. trinity-college dublinjurys-innbono-se-hotel-in-dublinmusiek-op-bootrit

Dag 2: Dublin-Knock-Sligo (Sly-go uitgespreek)

Ek voel so opgewonde soos toe ons, op skool, netbal teen Stellaland gaan speel het toe ons op die bus klim en ons deps ook sommer die laaste ry in die luukse bus. Dit was ons plek vir die hele 7 dae, al het ons toerleier, John, gesê dat ons na elke stoppie moet roteer om mense te leer ken. Die rotasie het mooitjies voor ons verby plaasgevind en niemand het aan ons gekarring nie. Blykbaar maak ons taal grts-grts en is die res van die lande op die bus, baie lugtig vir Suid-Afrikaners.

Ons bekyk die bouvalle en herstel van die Cistercian Abbey by Boyle, gaan op ʼn wonderlike bootrit op die Shannon Rivier by Carrick, waar ons bederf word met skons, tee en lewendige Ierse musiek. Die weer is nat..soos wat Ierland maar is en daar is hope mere. In Knock drink ons warm sjokolade en kyk waar die Maagd Maria aan die gemeenskap verskyn het. Godsdiens is deesdae meer van ʼn ritueel en toerisme aantreklikheid as geloof in Ierland.

Die volgende twee aande slaap ons in ʼn pragtige hotel in die kusdorp Sligo. Sononder is eers 11 uur in die aand, wat toe die laataandkuiertjie in ʼn plaaslike kroegie, eienaardig laat voel toe ons uitstap en dis steeds lig.

cistercian-abbey-by-boyletee-en-skons-op-boot-by-river-shannon river-shannon  cistercian-abbey-by-boyle-renovasies bootrit-op-river-shannon-rudolph-pats-en-kobus-van-links-na-regsmusiek-op-bootrit

Dag 3: Noord Ierland en Donegal ekskursie

Vroegoggend, na ʼn kontinentale ontbyt en die tradisionele white and black puddings (gestolde bloed-goete wat ek nie waag eet nie) is ons vort vir ʼn uitstappie. Ons sien Yates se graf en is toe oor die grens na Noord-Ierland, om die befaamde Belleek Pottery te gaan besoek. Spanning tussen Noord- en Suid-Ierland is steeds baie tasbaar (dis nie wat die media vertel nie) en ons word gemaan om ons woorde te tel. Die pottebakkery is vreeslik indrukwekkend (en die pryse angswekkend). Die familie kry elkeen ʼn fyn teekoppie uit ons karige kittie. Die aand eet ons by ʼn gesellige restaurant aan die kus.

duursame-produkte-van-belleek-pottery memoriam-aan-yates pottebakkers-by-belleek-potterybelleek-pottery-in-noord-ierlandhangende-blomme

Dag 4: Sligo-Connemara-Galway-Limerick

Die Connemara area is pragtig en die skape het sulke lang gesigte en ore. Die ramme se borskaste word blykbaar vol verf gesmeer tydens dek tyd sodat die boer kan sien watter ooie gedek is. (Die gedienste dames pronk elkeen met ʼn gekleurde rug). Ons maak ʼn stoppie by ʼn wolwinkel en ek koop die mooiste 100% wol serp. Een ding is verseker, Ierland se wolprodukte is puik! Dis sommer bleddie koud die dag, al is dit skynbaar somer hier. ʼn Galway-Sunday (daai lekker poeding met whiskey in) wat jy by die Brazen Head kan eet, is vernoem na Galway waardeur ons ry. Hier wil die slaghuismense hulle doodgril toe ons vra of hulle biltong maak en eet…(ek weet darem nie, hulle gril vir rou vleis, maar eet bloed??). Ons sien St Mary’s Cathedral en King Johns Castle.

Limerick is poskaartmooi, Thomond Park, Munster rugby klub se stadion, is ook hier. Die aand was feestelik, ons het soos koninklikes van ouds by die Shannon Castle banket geëet en Mead (tradisionele heuningwyn) gedrink. Verskillende toergroepe was betrokke en ons moes ʼn koning kies. Tradisionele Ierse sangers en dansers het ons vermaak.

mead-by-shannon-castle banket-by-shannon-castlelandskap-deur-connemara img_0189rudolph-voor-hotel-in-sligo sligo-hotel

Dag 5: Limerick-Cliffs of Moher

Die Cliffs of Moher is stilbly-mooi. Nie eers die peperduur toebroodjie wat ons daar eet kon my afsit nie. Dit was die een plek wat ek bitter graag wou sien en mens kon vir die res van die dag nie die glimlag van my gesig af kry nie.

Ons besoek ook die blokhuis (Tower house) Bunratty Castle en die Folk Park, hier verloor ek my sprokiesbeeld oor kastele, hulle is nat klam en baie benoud binne. Neewat, ek bly eerder in die volkshuisies. Die aand gaan besoek ons ʼn plaaslike kroegie (wat redelik woes lyk) nadat ons by die restaurant langsaan vis en skyfies geniet het. Die kroegman het ʼn haaslip en ons verstaan nie ʼn woord wat hy sê tussen die gelispel en swaar Ierse Gaelic aksent deur nie. maar kuier ʼn hond uit ʼn bos!

volksmusiek-musikante ierse-sangers-by-shannon-castle ierse-danser ierse-danse-by-shannon-castle

Dag 6: Limerick-Killarney-Tralee

Die rit Tralee toe is deur die Macgillycuddy Reeks en rondom die Rings of Kerry, ongerepte landskappe van Suid-Ierland. Almal is stil op die bus, elkeen besig met sy eie vêr gedagtes. Ons hou stil by nog ʼn toeriste winkel en word bederf met stomende Ierse koffie.

In Tralee die aand drink ons regte sjampanje en slaap ek en Rudolph in ʼn kamer wat uitkyk op ʼn polsende nagklub (waar ek toe van die bed afval ook!). Ons aanduitstappie was na ʼn eetplek waar ons volksmusiek luister en die besemdans bekyk.

regte-sjampanje-in-tralee bunratty-castle aand-van-ierse-volksmusiekblarney-castle

Dag 7: Tralee-Dublin

Die Blarney Castle was op die te doen lys vir die dag, waar jy die Blarney Stone kon gaan soen as jy nie, soos ek, aan hoogtevrees ly nie. Wat my oral opval is hoe mooi en skoon die dorpies is met hulle hangende blomme. Terug in Dublin, kuier ons toe saam met die Suid-Afrikaanse sjef van die restaurant waar ons eet.

Dag Laaste

Ons sluit die laaste dag in Dublin af deur trem te ry, die Guinness Storehouse en Jameson distillery te gaan besoek. Ek kry hoendervleis toe ek die verhaal van die Guinness familie en hulle uitgebreide ondersteuningsnetwerk vir die land se ekonomie hoor. Hulle is humaniste en filantrope van formaat. Die terugvlug was vol pitkos vir die siel. Ek sal beslis weer teruggaan.

guinness-storehouse img_0696 ou-jameson-distillerykandelaar-by-jameson-distillery

Foto’s: Yolande van Deventer